WET OP BASIESE DIENSVOORWAARDES – HUISBEDIENDES
1. TOEPASSING
Die sektorale vasstelling tree op 1 November 2002 in werking en is van toepassing op alle huiswerkers soos bediendes tuiniers, motorbestuurders en siekeversorgers. Dit is nie van toepassing op huiswerkers werksaam op plase waar werknemers plaaswerk verrig nie.
2. MINIMUM VERGOEDING
2.1 Werknemers wie meer as 27 ure per week werk
Minimum tariewe vir die periode 1/11/02 tot 31/10/03
Minimum tariewe vir die periode 1/11/03 tot 31/10/04
Minimum tariewe vir die periode 1/11/04 tot 31/10/05
Uurlikse loon - R3,33
Uurlikse loon - R3,59
Uurlikse loon - R3,87
Weeklikse loon - R150,00
Weeklikse loon - R161,55
Weeklikse loon - R174,15
Maandelikse loon - R650,00
Maandelikse loon - R700,05
Maandelikse loon - R754,65
2.2 Werknemers wie minder as 27 ure per week werk
Minimum tariewe vir die periode 1/11/02 tot 31/10/03
Minimum tariewe vir die periode 1/11/03 tot 31/10/04
Minimum tariewe vir die periode 1/11/04 tot 31/10/05
Uurlikse loon - R3,66
Uurlikse loon - R3,95
Uurlikse loon - R4,26
Weeklikse loon - R98,82
Weeklikse loon - R106,65
Weeklikse loon - R115,02
Maandelikse loon - R428,22
Maandelikse loon - R462,15
Maandelikse loon - R498,42
‘n Huiswerker wie minder as 4 ure per dag werk, moet vir 4 ure betaal word.
3. BETALING VAN VERGOEDING
Huiswerkers kan daagliks, weekliks, tweeweekliks of maandeliks betaal word met kontant, tjek of bankoordrag.
Indien kontant of per tjek betaal word, moet dit:
By die werkplek oorhandig word.
Gedurende werksure betaal word.
In ‘n geseëlde koevert wat die eiendom van die werknemer word, betaal word.
Die werkgewer moet, op betaaldag aan die huiswerker ‘n staat voorsien waarop die volgende aangetoon word:
Die werkgewer se naam en adres.
Die huiswerker se naam en beroep.
Die periode waarvoor die betaling geld.
Die huiswerker se vergoeding en oortydtarief.
Die aantal ure en oortydure wat die werknemer gewerk het gedurende die periode waarvoor betaling gedoen word.
Aantal ure wat die huiswerker op ‘n openbare vakansiedag of Sondag gewerk het.
Die huiswerker se vergoeding.
Details van enige ander betaling wat gedoen word (bv bonus, busgeld, ens.).
Details van aftrekkings.
Die netto bedrag wat betaal word.
Die werkgewer moet ‘n afskrif van die staat bewaar vir drie jaar.
4. AFTREKKINGS
Die werkgewer mag geen aftrekkings van die vergoeding van die werknemer doen nie (vir bv beskermende klere, kos, uitreiking van gereedskap, boetes ens.).
Die werkgewer mag ‘n pro rata bedrag vorder vir tyd nie gewerk as gevolg van afwesigheid en vir akkommodasie. (Die werkgewer mag nie meer as 10% van die vergoeding vorder vir akkommodasie of lenings nie).
5. SKRIFTELIKE BESONDERHEDE VAN INDIENSHOUDING
Wanneer ‘n huiswerker begin werk, moet die werknemer skriftelik van die volgende inligting voorsien word:
5.1 Die volle naam en adres van die werkgewer.
5.2 Die naam en okkupasie van die huiswerker, of ‘n bondige posopsomming.
5.3 Die fisiese werksplek of, indien op meer as een plek gewerk word, die besonderhede daarvan (slegs as een werkgewer meer as een werksplek het, d.w.s nie verskillende werkgewers nie).
5.4 Die datum waarop indiensname plaasvind.
5.5 Die gewone werksure en werksdae.
5.6 Die vergoeding en wyse van betaling.
5.7 Die tarief vir oortydwerk.
5.8 Enige ander kontantbetaling of betaling in natura (byvoordele) waarop die huiswerker geregtig is, asook die waarde daarvan (bv etes – hoeveel is dit per dag werd).
5.9 Hoe gereeld vergoeding betaal sal word.
5.10 Watter aftrekkings, indien enige, gedoen sal word.
5.11 Besonderhede van vakansieverlof.
5.12 Die periode verlang vir opsegging van die dienskontrak. Indien die kontrak vir ‘n spesifieke termyn is, die datum waarop die kontrak eindig.
Indien die werknemer nie in staat is om die geskrewe inligting te verstaan nie, moet die werkgewer dit verduidelik in ‘n taal en manier wat die huiswerker verstaan.
Enige verandering in bogenoemde besonderhede of die dienskontrak moet skriftelik geskied.
‘n Afskrif van bogenoemde dokument moet vir drie jaar bewaar word.
6. WERKSURE EN OORTYD
Die maksimum werksure is 45 ure per week, 9 ure per dag indien ‘n vyfdag werksweek of 8 ure per dag vir ‘n sesdag werksweek geld.
Oortyd is vrywillig en nie meer as 15 ure oortyd per week mag gewerk word nie.
Daar mag nie langer as 12 ure per dag, oortyd ingesluit, gewerk word nie.
Oortyd moet betaal word bereken teen 1½maal die normale uurloon. Indien die werknemer daartoe instem, kan tyd af met betaling gegee word in plaas van oortydbetaling. Die werknemer kry dan 90 minute af vir elke uur oortyd gewerk en tyd af moet binne een maand na oortydwerk geneem word. ‘n Skriftelike ooreenkoms mag voorsiening maak dat die een maand na 12 maande verleng word.
Betaling vir werk op Sondae is as volg:
(a) Sondagwerk word teen dubbel die normale uurloon betaal.
(b) Vir Sondagwerk moet minstens ‘n normale dag se vergoeding betaal word d.w.s die werknemer ontvang die grootste van ‘n dag se vergoeding of dubbel die uurloon vir ure werklik gewerk, welke ookal die grootste is.
(c) Die partye kan ooreenkom tot tyd af in plaas van betaling op die basis van 2 ure af vir elke uur gewerk, met vol betaling.
(d) Indien Sondae ‘n normale werksdag is word oortyd betaal teen 1,5 maal die uurloon.
Vir openbare vakansiedae geld die volgende:
(a) Die werkgewer mag nie vereis dat op ‘n vakansiedag gewerk word nie, behalwe met ooreenkoms tot dien effek.
(b) Die huiswerker moet betaal word vir ‘n vakansiedag indien die vakansiedag op ‘n normale werksdag val.
(c) Indien die werknemer op ‘n vakansiedag werk, word die normale vergoeding betaal, plus die normale uurloon vir elke uur gewerk.
7. VERLOF
Verlof van minstens 3 weke moet toegestaan word na elke 12 maande diens. Met ooreenkoms word 1 uur verlof toegeken per 17 ure gewerk, of 1 dag verlof vir elke 17 dae gewerk.
Indien daar ‘n vakansiedag gedurende die werknemer se verloftyd is, word verlof dienooreenkomstig verleng.
Die werkgewer besluit wanneer verlof geneem word. Dit mag nie in die kennisgewingstydperk val nie.
Die werknemer word ten volle betaal vir die verloftydperk en moet daarvoor betaal word voor die verlof ‘n aanvang neem (die werker word dus vooruit betaal).
8. SIEKVERLOF
Siekteverlof word in 3 jaar siklusse toegeken, bereken vanaf die diensaanvaardingsdatum.
Siekverlof word bereken teen die aantal werksdae per 6 weke periode. ‘n Werknemer wat dus 3 dae per week werk, is dus geregtig op 18 dae siekteverlof per 3 jaar siklus.
Gedurende die eerste 6 maande diens kwalifiseer die werknemer slegs vir 1 dag siekteverlof vir elke 26 dae gewerk.
Indien die werknemer so versoek, mag die werkgewer kostes ten opsigte van hospitalisasie of mediese versorging betaal en verreken teen die werknemer se vergoeding.
‘n Werknemer moet ‘n mediese sertifikaat indien wanneer vir meer as 2 agtereenvolgende dae siekteverlof geëis word. Die mediese sertifikaat moet uitgereik en onderteken wees deur ‘n mediese praktisyn, tradisionele geneser, ‘n professionele verpleegkundige wie gemagtig is om sertifikate uit te reik, of enige ander persoon wie mag diagnoseer en behandel en by ‘n professionele raad geregistreer is (bv apteker) en moet bevestig dat die werknemer as gevolg van ongeskiktheid, vir die tydperk nie kan werk nie.
Indien die huiswerker inwoon en nie geredelik by ‘n dokter kan kom nie, moet die werkgewer normale vergoeding betaal tensy die werkgewer redelike bystand verleen om die werker in staat te stel om ‘n mediese sertifikaat te bekom.
9. VERLOF VIR FAMILIEVERANTWOORDELIKHEDE
Hierdie klousule is van toepassing op huiswerkers wie meer as 4 maande in diens is en minstens 4 dae ‘n week vir die werkgewer werk.
Die huiswerker is geregtig op 5 dae menslikheidsverlof per 12 maande wanneer:
- die werknemer se kind gebore word;
- die werker se kind siek is of
- in geval van die dood van die werker se gade of lewensmaat of die werker se ouer, aangenome ouer, groot ouer, kind, aangenome kind, kleinkind of kleuter.
Die werknemer moet normale vergoeding betaal word wanneer met menslikheidsverlof.
10. KRAAMVERLOF
‘n Huiswerker is geregtig op minstens 4 maande onbetaalde kraamverlof wat geneem mag word vanaf 4 weke voor verwagte datum van bevalling, of ‘n datum bepaal deur ‘n dokter of vroedvrou met inagname van haar of die fetus se welsyn.
Die werker mag nie werk hervat voor 6 weke na bevalling nie, tensy ‘n dokter of vroedvrou sertifiseer dat sy daartoe in staat is.
‘n Werker wat gedurende die derde trimester van swangerskap ‘n miskraam het of ‘n doodgebore baba het, is geregtig op 6 weke kraamverlof.
11. BEëINDIGING VAN DIENS
Kennisgewing van beëindiging van diens moet skriftelik gegee word, behalwe deur ‘n ongeletterde werknemer.
Indien werker minder as 6 maande diens het, moet 1 week kennis gegee word daarna 4 weke.
By beëindiging van diens moet verskuldigde verlof uitbetaal word bereken teen 1 dag per 17 dae gewerk of 1 week vir elke 4 maande gewerk.
By personeelvermindering is ‘n skeidingspakket van 1 week se vergoeding per voltooide jaar diens betaalbaar. Daar is sekere prosedures wat gevolg moet word voor aflegging waarvoor die Wet op Arbeidsverhoudinge gevolg moet word.
12. DIENSSERTIFIKAAT
By diensbeëindiging is die werknemer geregtig op ‘n dienssertifikaat waarop die volgende verskyn:
- die werker se volle name;
- die naam en adres van die werkgewer;
- die begindatum en diensbeëindigingsdatum;
- die postitel of bonidge posopsomming by tye van
diensbeëindiging;
- enige relevante opleiding deur die werker ondergaan;
- die vergoedingskaal by diensbeëindiging, en
- indien die werknemer dit so verkies, die rede vir
diensbeëindiging.
13. NAGWERK
Indien tussen 18:00 en 06:00 gewerk word, moet skriftelik daartoe ooreengekom word en ‘n toelaag (gewoonlik 10%) betaal word en moet vervoer huis toe geredelik beskikbaar wees. Indien meer as 50 keer per jaar na 22:00 en voor 06:00 gewerk word, geld verdere bepalings waarop gelet moet word.
14. BYSTAND
Bystanddiens beteken dat die werknemer tussen 20:00 en 06:00 beskikbaar moet wees vir werk. Indien so ooreengekom, moet die werkgewer ‘n toelaag van R20,00 per skof betaal.
15. ETENSTYE
Die huiswerker wie langer as 5 ure werk, is geregtig op 1 uur etenstyd, wat nie deel van werksure vorm nie.
Die partye mag skriftelik ooreenkom om etenstyd tot 30 minute in te kort of daarvan af te sien indien minder as 6 ure per dag gewerk word.
Gedurende etenstye mag daar van die werker verwag word om te werk slegs indien die take nie sonder toesig gelaat mag word of deur iemand anders gedoen kan word nie. Etenstye moet dan betaal word.
16. RUSPERIODE
‘n Rusperiode van minstens 12 ure tussen skofte en 36 agtereenvolgende ure per week, wat ‘n Sondag insluit, moet toegestaan word.