VOORBEELD VAN: 
"Begin jou dag 'n slag met 'n lag"

Hierdie E-pos word elke Maandag, en 
Vrydag aan net oor die 7000 Internetters gepos. Jy 
kan dit ook GRATIS ontvang. Toetsbestuur ons vir 
'n paar dae. 


Hier is die voorbeeld:

BEGIN JOU DAG 'n 
SLAG MET 'n LAG!!


KINDERSêGOED:

Ilze vertel:

My seuntjie was 4 toe hy een aand opsluit saam met my wou gaan bad, iets wat hy nog nooit gedoen het nie. Ek besluit toe dat dit seker geen skade kan doen nie en stem in. Ons het in die bad geklim en hy het my van kop tot tone beskou, ek het amper soos 'n skoudier gevoel. Toe begin hy met sy vrae van hoekom sekere dele van my dan anders as syne lyk. Ek het besluit om hierdie geleentheid aan te gryp en aan hom die feite van die lewe vertel. Toe ek klaar was het hy daar in die bad gesit met sy elmboog op sy knie en sy ken in sy handpalm gestut – het kompleet soos "Trompie die denker" gelyk. Die frons op sy voorkop het al dieper geword en ek kon sien dat daar 'n vraag in sy gemoed lewe en toe vra hy die vraag wat enige mansmens een of ander tyd in sy lewe vra: "Mamma, wat kos 'n kar?"

<><><><><><><><><>

Johan se staaltjie:

Juffrou by die kleuterskool vertel die kinders van tuine, plante en dinge, en uiteindelik verstaan hulle ook van bladwisselende bome en immergroen plante. Kerneels se kleindogter kom tuis van die kleuterskool af en ingedagte betrag sy Oupa se bles voordat sy haar tot Ouma wend:" Ouma, is Oupa ook bladwisselend?".

<><><><><><><><><>

En Annelie vertel:

Maria se kinders is al groot en uit die huis uit. Twee dogtertjies van vriende kuier by haar en haar man. Kuier is vir die twee baie lekker en met die vertrek is almal bietjie droewig. Sê Maria:" Ag ja, nou bly ek alleen agter, sonder kindertjies en ek kan ook nie meer van my eie hê nie", maar voor sy iets kon sê van "te oud" val Mia haar in die rede met: "Hoekom nie, is jou melk dan suur".

<><><><><><><><><>

DIERE EN HULLE MANIERE:

Johann vertel:

My dogter het 'n gemmerkat (soort van). Sy, dit is nou die kat, het die gewoonte om op die bank se rugleuning te spring wanneer voëltjies buite tjirp. Dan maak sy hulle na. Jy kan duidelik sien hoe haar keel beweeg en die geluide wat sy voortbring is duidelik herkenbaar as dié van 'n voëltjie. Ons kon nog nie regtig vasstel wat haar bedoeling is nie. 

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

DIE "PARKEERKAARTJIE"

'n Baie goeie vriend van my moes nou die aand vir iemand 'n pakkie gaan aflewer. Hy was baie haastig en parkeer toe so half en half voor iemand se motoringang. Met sy terugkeer na sy voertuig, het hierdie nota onder die ruitveër gepryk:

Hierdie is nie 'n parkeerkaartjie nie, maar as dit in my vermoë was om jou 'n kaartjie te gee, dan sou jy beslis twee gekry het.

Deur jou dikkoppige, onbedagsame en kleinlike poging om te parkeer het jy beslag gelê op genoeg parkeerruimte vir 20 span muile, twee olifante, een kafferbok en 'n safarie pigmieë uit die Belgiese Kongo.

Hierdie kaartjie word aan jou gegee sodat jy in vervolg aan ander motoriste ook kan dink en nie net aan jouself nie. In elkgeval hou ek nie van dominerende egoistiese of vertraagde bestuurders nie en jy sorteer blykbaar onder een van hierdie kategorieë.

Ek sluit af met die hoop dat jy spoedig ratkas-weiering sal opdoen [op die besigste straat in die stad om 4.30nm]. En mag jy deur die vlooie van 'n duisend kamele betrek word onder jou armholtes.

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

WENKE:

HAK EN PLAK:

Ons het besluit dat "Copy and Paste" in Afrikaans "hak en plak" moet heet. 'n Maklike mannier om te hak en plak is die volgende: Lig die gedeelte uit [hightlight] wat jy wil hak, druk dan "Ctrl" en terwyl jy dit inhou - druk "c". Om dit weer te plak, gaan jy na die dokument, kies die plek waar dit geplak moet word en druk weer "Ctrl" en terwyl jy dit in hou - druk "v". As jy eers hierdie metode aangeleer het sal jy dit nie maklik op 'n ander manier doen nie.

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

WYSHEDE:

Susan se wysheid:

Wees versigtig wat jy dink, dit word jou woorde
Wees versigtig wat jy sê, dit word jou aksies
Wees versigtig wat jy doen, dit word jou gewoontes
Wees versigtig met jou gewoontes, dit word jou karakter

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

Jakkie vertel van haar verleentheid:

Toe ek 'n jong student was (1960) en proef-onderwys moes doen, het ek onder andere 'n Bybelles by 'n Graad-1 klas gegee. Die modus operandi was dat jy altyd eers die les begin met hersiening van die vorige les, deur vrae te vra en te kyk of die kinders onthou wat gister vertel was, dan eers bied jy die huidige les aan. Dit was die eerste dag wat ek in die spesifieke klas inloop en ken geen enkele kind nie. Dit was 'n 'krit'-les. (Die dosent sit in jou klas om te evalueer en jou punte te gee) Die vorige dag se les het oor die Tuin van Eden gegaan. Ek vra toe so een of twee vragies en dit gaan goed. Die derde vraag lui so:- "Waarom wou God nie gehad het dat Adam en Eva van die één boom in die middel van die tuin eet nie? Baie hande gaan op. Ek vra sommer 'n dogtertjie en flink kom die antwoord:- "Aag, Jesus wou seker die vrugte 'ge-can' het."

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

UIT DIE UNIVERSITEIT:

Die wiskunde Prof. het baie gekla oor die lugversorger wat nie in sy lesingsaal gewerk het nie. Werkers daag gedurende die naweek op om die apparaat te herstel, maar kom tot die gevolgtrekking dat dit verwyder moes word en in hulle werkswinkel herstel sou moes word. Siende dat dit weer teen Dinsdag teruggeplaas sou word, laat hulle die gat in die muur net soos dit is.

Die Prof. was baie daarop gesteld dat geen, maar GEEN student laat by sy klas instap nie. Dié Maandag was student Jooste net 'n oomblik laat na die klas reeds begin het. Toe hy die klas instap, sê die Prof. baie streng: "Mnr Jooste, daar is die deur!" Jooste verlaat die klas, maar besef dat dit 'n baie belangrike lesing gaan wees. Hy sien die gat in die muur en neem 'n stoel en gaan sit net buite die gat, sodat hy kan luister. Die Prof sien hom deur die gat en vra: "Mnr. Jooste, wat dink jy doen jy?" Waarop Jooste antwoord: "Prof ek swot buitemuurs."

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

HUISBESOEK:

Die predikant is besig met huisbesoek.  So kom hy by die voordeur van een van sy lidmate.  Hy druk die klokkie. Geen reaksie nie.  Hy luister na die gehuil van die baba, die voetstappe in die gang af en die stem van die ma.  Hy druk nie weer die klokkie nie, maar klop hard teen die deur.  Hy wag, maar niemand kom maak oop nie.

Die dominee haal 'n kaartjie uit en skryf daarop: 'Openbaring 3:20'  Hy teken die kaartjie en skuif dit onder die voordeur.  Die woorde van hierdie teks is: 'Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe...'

Die volgende Sondag na die diens kom 'n vrou na hom toe aangestap, handig hom 'n kaartjie en stap weg.  Hy kyk na die teks wat daarop geskryf staan: Genesis 3:10

Hy maak sy Bybel oop en soek die teks.  Daar staan toe geskrywe: 'Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek was kaal. Toe het ek weggekruip'

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

OOM NAAS:

Hierdie kostelikhede kom van Dawie af:

Ek het grootgeword op Dealesville, ‘n klein plattelandse dorpie in die Vrystaat. In die sestigerjare was Oom Naas die faktotum by ons skool, en ook die  koster by die kerk. Oom Naas het nooit hard of vinnig gepraat nie, maar hy kon met ‘n doodernstige gesig baie snaakse dinge kwytraak.  Wat hom m.i. besonders gemaak het was sy vermoë om 'n ding doodernstig te vertel sonder dat hy ooit laat blyk het dat hy eintlik spot.  As daar ander lesers is wat van Dealesville af kom, sal hulle sekerlik ook van oom Naas se sêgoed onthou. Hier is ‘n paar: 

Ek sien eendag hy het ‘n nuwe pyp met ‘n besonder lang steel. Toe ek hom
daaroor vra, antwoord hy:
" Ag, ek moes hom maar koop, want die dokter het gesê ek moet die
twakkies maar ver van my af hou...."

Ons standerd drie juffrou was ‘n Engelse "lady" in die ware sin van die woord. Mrs Page was al in haar vyftigs, maar altyd "prim en proper". Oom Naas loop eendag met ‘n draad snippermandjie maar sonder ‘n boom by ons kwaai skoolhoof verby. Daardie dag het die skoolhoof gelag soos niemand hom ooit hoor lag het nie, want Oom Naas se opmerking (dood ernstig, soos gewoonlik) was:

"Meneer, ek gaan kry net gou ‘n ander snippermandjie. Miesies Page se boom het uitgeval en nou lê haar inhoud die vloer vol!"      

Destyds was daar nie ‘n swembad op die dorp nie en oom Naas het vir hom ‘n dam gebou om sy tuin nat te lei. Hy nooi toe die kinders uit om smiddae daar te kom swem. Die skoolhoof doen toe aan die hand dat oom Naas dit moet beperk tot een middag per week vir die dogters, en een middag per week vir die seuns. Oom Naas verstaan dit toe (doelbewus ek is seker) verkeerd, en handel die saak af met:

"Ag Meneer, ek sal kyk dat daar geen onderwaterse ongeregtighede plaasvind nie!"               

Ons kon enige tyd swartbordborsels by oom Naas gaan haal, maar hy was baie presies en jy het nie ‘n nuwe borsel gekry sonder die oue nie, al was daar net ‘n plankie oor. Toe ek eendag vir hom vra hoekom sy stoor so vol ou borsels is, toe sê hy:

"Ag, die skoolraadsekretaris kom elke jaar en hy wil elke borsel tel. As een kortkom is ek verantwoordelik. En die volgende gaan wees dat ek al die papiertjies wat die kinders deur hulle stêre trek, ook sal moet bêre."              

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

RESEPTE:

Van Lize het ek hierdie wafelresep ontvang:

Bestanddele:
2 eiers
1/2 teelepel sout
1 + 3/4 koppies melk
4 eetlepels gesmelte botter
2 eetlepels suiker
2 koppies meel
2 teelepels bakpoeier

Metode:
Sif die droë bestanddele. Klits eiergele en voeg by melk en meng,
voeg die melkmengsel by droe bestanddele en meng goed. Voeg gesmelte botter by en meng goed. Klits eierwitte styf en vou liggies by die
mengsel in. Nou kan jy begin bak!

Jy kan die wafelresep dubbel maak of selfs drie keer aanmaak. Ek kan
nie vir jou sê hoeveel wafels jy gaan bak nie, want ons het nog 'n ou
wafelpan en ons maak 7 tot 8 baie groot wafels.

Jammer ek het vergeet van die eiergele en melk wat mens sommer in 'n
maatbeker kan meng. Die een bak is vir die eierwitte en die ander een
dan vir die hele beslag.

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

OORDENKING:

HOOR MET DIE HART

Lees Psalm 37: 3 - 5 "Vind vreugde in die Here . . . . ." [4]

  'n Insektekundige en sy vriend loop met 'n besige straat af. Skielik steek die wetenskaplike vas. "Luister!" Sy vriend luister, maar hoor net die gedreun van die verkeer. "'n Kriek, 'n sonderlinge kriek!" Versigtig loop die wetenskaplike vorentoe, en daar, onder 'n steen, kry hy die kriek.

  "Hoe kon jy hom in die geraas hoor?" vra sy vriend verbaas.

  "Elke mens hoor met sy hart - hy hoor en sien wat vir hom belangrik is. Kyk, "en met die woorde laat hy 'n muntstuk val. Dadelik steek 'n paar mense vas om te kyk waar die muntstuk geval het.

Die Heilige Gees se vernuwing maak 'n mens fyngevoelig vir indrukke wat van God af kom. Die onbekeerde siel stel nie in God belang nie, begeer nie om Hom te hoor nie en sien nooit Sy hand in hul lewensomstandighede raak nie.

  Gebed: Here, hou my in hierdie besige dag sensitief vir u stem.

  [Manie Colyn]

{-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-} {-_-}

Groete,

Danie 
d@nie.co.za

()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()()

Indien jy hierdie geselsbrief gereeld wil ontvang, kliek HIER

Besoek ons webblad - www.egafrikaans.co.za