RAAD OOR SINUS:

Hierdie is rate wat ingestuur is na 'n hulpnavraag oor wat om 
te gebruik vir sinus. Ons het al die rate bymekaar gemaak en 
op hierdie blad geplaas. Ek vermoed dat na jy dit klaar 
gelees het, jy vir jou Heuning en Kaneel gaan koop. 

Baie dankie aan Paula wat dit bymekaar gemaak het!!

ADVIES VIR SINUS PROBLEME

Xandra:

My kinders het net so gesukkel met sinus, ek het by die apteek "Health Tones se Sinus & Allergies" gekoop, dit is 'n homeopatiese druppel,  ±R100, jy gooi net vier tot ses druppeltjies in 'n bietjie water, dit is nou nie baie lekker nie, maar my seuntjie hou altyd 'n botteltjie koeldrank byderhand sodra hy klaar die slegte medisyne gedrink het vat hy 'n sluk koeldrank, en ek moet sê dit werk, probeer dit gerus.

Simpatie met jou. Het darem twee sulke seuns groot gekry. Behalwe die Gautengse lug het hulle ook nog allerlei allergieeë gehad vir kosse ook. Probeer miskien dat sy soutwateroplossing snuif. (1 teelepel elk van sout, koeksoda en suiker opgelos in 1 liter water). Sout vir steriliteit, koeksoda vir ph-faktor om te neutraliseer of iets en suiker vir olierigheid. Die naasbeste vervanging vir seewater. Mens het altyd in Pretoria by 'n Apteek wat langs die ou Garlicks was (waar Sammy Marks-gebou nou is), so 'n oulike glasspuitjie gekry (het soos worshondjie sonder bene gelyk). Hierdie spuitjie het dan gehelp om die water in die neusie op te snuif. Allerhande gagga goeters kom dan uit die neusies uit. LW hulle hou gewwoonlik nie van die oefening nie.
Chloorwater in swembaddens is gewoonlik ook 'n groot vyand. Die twee en 'n halwe jaar wat ons in Kaapstad gewoon het was my kinders nooit siek nie. Hulle is baie lief vir swem en die see. As hulle net begin snuif het, het ons (somer of winter) die see getakel en die seewater kans gegee om die sinusholtes weer goed uit te spoel! Ons was drie weke terug in die ou destydse Transvaal toe het die jongste weer longontsteking. Hoop jy kom reg. Hou moed - weet net na so om en by die twaalfde of dertiende jaar gaan dit gewoonlik beter.

Cor:

Ek het jou vragie in Danie se nuusbrief gesien i.v.m jou dogter se sinus, maagpyn en loopneusie. Ek en my man was ook ernstige lyers van sinus en loopneus en dit agv allergie. Mens moet die allergene probeer beperk - nou jy kan nie veel doen aan die lug nie, maar dis heel moontlik iets anders wat haar ook soveel prikkel dat haar lyfie heeltyd moet veg teen al wat allergeen is. Soos voorgestel deur 'n bekende patoloog het ons gevind dat suiwel (melk en kaas sjokolade, ens) sitrus (lemoene veral) en brood groot sondebokke is. Nadat ons die goed uitgesny het, het die alewige loopneus en sinus drasties en amper onmiddellik opgehou en is nou beperk tot seisoensveranderinge wanneer ons soms nog hooikoors kry. Deur brood (eintlik koring en rysmiddel "yeast") uit te skakel het my maagpyn en namiddaglomerigheid ook padgegee. Sny die goed uit vir sowat 3 weke uit haar dieet en kyk hoe vaar sy. Jy kan die melk vervang met bok/soja/rys melk, brood met rys of mieliekoekies. Pasop ook vir MSG, kleurmiddels en preserveermiddels. Bly sover moontlik daarvan af weg - lees al die bestanddele op elke voedselmiddel wat jy koop. Jy sal skrik as jy sien hoeveel "gif" ons elke dag inneem. Dis die dinge wat ons natuurlike weerstand teen allergene afbreek en ons die heeltyd laat siek voel. Homeopate kan ook middels voorskryf wat baie sal help om haar gestel weer op te bou en haar natuurlike weerstand te versterk - my seun het baie baat daarby gevind. Lees ook gerus die boeke van Mary-Ann Scheurer "Healthy Kids" en "The Natural Way". 
 
Amanda:

My eie dogtertjie word ook hierdie jaar sewe en ek het lank gesukkel met haar sinusse (altyd 'n toe of snotneusie, eet met oop mond ens. seker jy ken al die simptome) en elke ander week se ander medisyne is ook nie altyd goed nie. My dokter het my aanbeveel om haar op 'n spesiale dieet te sit en dit het klaar wondere verrig. Die basiese beginsel van die dieet is om alle kleur-, geur- en preserveermiddels uit te skakel: m.a.w. in plaas van aanmaakkoeldrank gebruik suiwer vrugtesap effens verdun met water of Ceres junior juice wat 'n vermenging van vrugtesap en rooibostee is of goeie ou Clifton. In plaas van lekkergoed gee iets soos gedroogte vrugte of vars vrugte en joghurt. En so aan. Aan die begin is dit nie so lekker nie, maar hulle raak dit gou-gou gewoond. Suiker is 'n groot euwel - dit veroorsaak baie slym - rooibostee of kafeien vrye koffie met 'n bietjie heuning - melk moet ook beperk word - gebruik lae vet melk dit is nie heeltemal nodig vir vet vry nie. Dan kan jy ook natuurlike hulpmiddels by 'n homeopaat kry. Basies gaan jy terug na die vootrekkerdae toe alles natuurlik was met geen kleurmiddels, geurmiddels of preserveermiddels nie. Dit is dan ook die rede waarom gewone medisyne nie altyd werk nie, omdat dit ook vol van die bogenoemde is. Ek weet dit is bykans onmoontlik om al hierdie dinge uit te skakel, veral lekkergoed. Probeer maar net  -  jy sal verbaas wees as jy eers sien hoe maklik dit eintlik is. Diabetiese of tuisgemaakte lekkergoed is baie goeie plaasvervangers en as ons dan moet koop hou dit by malvalekkers. Blou, groen, pers en rooi is veral baie "slegte" kleurmiddels. 'n Mens kan nog rondom die ander eksperimenteer. Baie sterkte, jy kan my gerus skakel as jy enige verdere navrae het, ek verstaan hoe raad-op mens kan raak! 

Diana

Ek het weer ondervinding van 'n dogter wat baie hooikoors kry in die Kaap maar hier in die droë Noord-Kaap gaan dit baie beter, maar nou trek ons weer terug na die Wes-Kaap. Ons het regtig alles probeer toe sy klein was (nou 17 jaar oud) en het van Dokters en Pediaters gegaan. Ons kom toe by Dr Roy Gordon in die Kaap. Hy sê toe die eerste ding wat ons van haar moet weghou is kosse met preserveermiddels in. Veral Swael Dioksied. Sy mag toe geen ander koeldrank drink as helder appelsap en Sprite nie. Gaan lees gerus op kosse wat dit bevat en jy sal verstom wees watter kosse bevat alles preserveermiddels wat nadelig is vir hooikoorslyers. Vermy ook alle suiwelprodukte soos melk, kaas en roomys want dit veroorsaak slym. Vermy lemoen- en koejawelsappe, want dit maak ook slym en irriteer die keel. Jong, ek het regtig enige iets probeer om haar te help om die hooikoors te verlig maar sy is baie allergies vir huismyte en muf. Nou dit is die moeilikste om te beheer. Maar probeer regtig eers om die preserveermiddels en suiwel te vermy. Op die oomblik gee ek maar vir haar "Sinfrontal" for Sinusitis, Sneezing and postnasal drip. Dit word gemaak deur Natura en is te koop by enige apteek. Ek is teen hierdie ander hooikoors-middels wat die kinders lomerig maak want hulle moet skool gaan . As jy enige ander raad ontvang laat weet my gerus, ek sal regtig enige iets doen om hulle te help om beter te voel.

Cheanette:

My dogterjie is nou ook 7 en hoes en proes al vandat sy twee jaar oud was......ek het haar by al wat dokter is gehad en hulle het elke liewe keer antibiotika voorgeskryf en niks het gebeur nie..... Nou ja, toe vat ek haar maar einde ten laaste na die Homeopaat en net daar het my kind die eerste keer verligting gekry van al haar probleme....hy het vir haar Sinusan, Hepatine en Allergin voorgekryf en jy kan dit by die meeste gesondheidswinkels kry en dit kos so ongeveer R60 vir elke houertjie pilletjies....hulle suig net so vier 'n dag en na 'n week of so het jy 'n ander kind...geen maagpyn, geen hoofpyn en die loopneus en hoes het voor die voet verdwyn. Ek is so bly want my kind het al sulke donker kringe onder die ogies gehad en dit het gelyk of dit so diep in haar oogkaste sit...sy is nou heeltemal beter en as ek sien dat sy na 'n ruk weer begin hoes gee ek maar net weer die pille. Dit is alles natuurlik en kan haar hoegenaamd geen skade berokken nie. Laat haar ook toets by die H/P vir enige alergie....My kind is onder meer allergies vir suiwel, druiwe en koring maar ek gee dit in elk geval vir haar, net nie in baie groot hoeveelhede nie. Jy kan rêrig baat vind by die medisyne wat ek genoem het...die Hepatine maak die lewer skoon en help om van al die gifstowwe ontslae te raak.

Minnie:

Ek sou voorstel dat jy na 'n gesondheidswinkel gaan en vra vir TEA TREE OIL of LAVENDER OIL (vra hulle sommer bietjie uit oor "NATURAL REMEDIES) - dan laat jy jou kind stoom - bakkie warm water (versigtig wees veral met kinders) met 3 druppels van of tea tree OF lavender oil - paar keer 'n dag. jy kan ook 'n brander (met tee kersies) kry om te brand wanneer kind in omtes is, met die olies. Hoop dit help.

Cronette: 

Gee vir haar Vital se produk "Echinacea".....dit help tot vir Longontsteking. Daar is ook 'n ander tipe homeopatiese produk op die mark met die naam van Sambucus Nasal Drip. Dit werk soos 'n bom. Lees gerus Dr Arien vd Merwe se boeke oor natuurlike hulpmiddels - dit werk regtig en is spotgoedkoop by Clicks.

Santie:

Gaan apteek toe en vra vir die apteker vir Alerjex pilletjies. Dit kos omtrent R15 vir 20 of 30 pilletjies, is heeltemal natuurlik en kan haar geen skade doen nie. My seun het dieselfde probleem gehad en is vandag al 25 jaar oud. Hy sluk elke oggend sy twee pilletjies al vandat hy in die laerskool was. Die simptome verdwyn binne sowat 10 tot 15 minute en sy sal sommer lekker voel vir die res van die dag. Ook waarna julle moet kyk, is daar diere in die huis ? - of rook iemand in dieselfde vertrek as sy ? Dit is alles wat dit vererger. Ek weet, ons is daardeur. Probeer dit gerus.... ek weet dat jy my gaan terug e-mail en dankie se vir die hulp. Ek het al vir baie mense dieselfde raad gegee en dit werk !!!!

Lynette:

Maak vir haar uietee, soos volg: Maak vier of vyf middelslag uie skoon, sny dit grof op. Gooi dan vyf koppies kookwater daaroor en laat 15 minute (met deksel op) kook. Laat dit oornag staan en plaas dit in die yskas of vrieskas. Ek vries 'n koppie uietee in 'n botteltjie en haal dit die vorige aand uit vir die volgende dag. Gee haar elke oggend en elke aand 'n halwe koppie uietee. Hou aan daarmee. Dis heelwat goedkoper as enige van die sinusgoed wat 'n mens te koop kry. Indien jy liewer iets wil koop, werk Natura se Nasosinus ook goed.

Willie:

Ek is 'n sinus "sukkelaar" myself maar na ek Weleda se Sinus en Post Nasal Drip begin gebruik het is ek 'n ander mens. Jy kry dit by enige apteek asook by Clicks. In die begin 'overdose' sommer daarop en dan kan jy verminder, die goed werk fantasties en jy drink dit net met bietjie water, ek het gemiddeld so 3 sinus pille 'n dag gedrink, elke dag van die maand, en sedertdien, het ek nog nie weer pille gedrink nie!! Hoop dit help vir julle ook.

Wilna:

My seuntjie het ook baie siek geword, toe het 'n pediater vir my die raad gegee. Gee elke dag vir haar 'n lepeltjie Scotch Emulsion, en tien druppeltjies Echinaforce druppels in bietjie water. Dit bou hulle weerstand, en help met die sinusse en wat ookal daarmee gepaard gaan. Jy kry dit sommer in apteke. Hoop dit help ook vir julle. 

Ampie en Annamarie: 

Ons bly in Vereeniging en hier is ongelooflik besoedeling. Ons gebruik nou 4 jaar Herbalife, en die produkte werk. Ons het 'n tee by name Natural Raw Guruana, wat veral op die asemhalingsorgane en brein funksioneer. My gesin van vyf weet nie van sinus, hooikoors of asma nie. Persone met migraine verkry ook baie goeie resultate. Ek hoop dit gee jou moed.

Andri:

Ek is gediagnoseer met chroniese bronchitis en rhinitis vir ongeveer 8 jaar. Alles was toegeskryf an die slegte lug ens.......... Ek ontdek toe 'n manier van eet naamlik 'The natural way'. Die skryfster van die boek is Mary-Ann Shearer. Dit is oral beskikbaar in die boekwinkels of sekerlik selfs in die biblioteek . Vandat ek my kombinasie van kosse verander het, het ek 'n dramatiese verandering ondergaan. Ek was nog nie siek met longverwante of sinus kwale vir 3 jaar nie. Dit is te langdradig om oor die e-pos te verduidelik, maar dit is die moeite werd om die boek te lees. Dit vra nie vir drastiese verandering in jou eetgewoontes nie, maar net die kombinasie van kosse. 

 Hein

Ek het vir so 40 jaar aan sinus en loopneus en al die ander goed gely. Verlede jaar het ek vyf keer in die hospitaal beland met asemhalingsprobleme. Die vierde keer toe ek omdop en terugkeer vind die spesialis uit dat ek, wanneer ek by die huis kom, sinus pille/kapsules/ stroop ens. vir sinus neem. Net daar trap hy my uit en verbied my om enige sinusmedisyne te neem. Sy storie is dat sinus deur die medisyne homself voer. Ek het vyf maande laas enige iets vir SINUS geneem. Vir vyf maande geen hoofpyn behalwe twee deur hitte en spanning, asook geen gedurige gehoes en al die ander tekens van sinus nie. Die enigste wat hy voorgeskryf het is BETNESOL (neus, oor en oog) druppels. Deesdae gebruik ek dit so eenkeer elke twee weke indien nodig. Na vyf maande is dit nog moeilik om te glo dat ek nou selde hoes of snuif of gereeld keel skoonmaak. Miskien help dit. 

Maré

Die maagpyn kom van die loopneus. Dit loop agter in die keel af en krap die maag om. Die hoofpyn is van die sinusse wat vol is. Jy sal jou dogter baie vloeistof moet ingee elke dag. Dit sal help. As 'n allergiese aanval baie erg is, gee haar koffie (die kaffeine is goed vir allergieë - so gebruik dit net as sy dit nodig het.). 'n Daaglikse behandeling is om haar Zyrtec druppels / pilletjies te gee. Dit werk nogal goed en is veilig vir kinders. Celestamien is ook 'n baie goeie antihistamien. As dit ooit vir julle moontlik is, moet julle probeer om na 'n ander omgewing te trek. Ek ly nogal erg in die Kaap en is beter in die Transvaal. Probeer om nie enige drastiese behandelings te neem nie. Alle voorspoed.

 Francois 

Ek gebruik tans 'n natuurlike produk en ek moet eerlik sê ek is verbaas oor die resultate wat ek kry. Ek het pille tot 4 x per dag gedrink - sinumax, clarityne, polarimine, maar al wat dit gedoen het was om my aan die slaap te maak en die kopseer te vererger. 

Dirk:

Ek is 'n Bolandgeborene wat later in Namibië kom bly het en wat al die jare sinusprobleme gehad - tot 9 maal per jaar siek gewees. Ons praat van hospitaal en selfs suurstof en hope duur pille. As predikant moes ek naweek vir naweek verleë met 'n heesstem ploeter, deur erge koors sukkel of aflos kry. Dit het net erger en erger geword. Ek is toe na 'n oor/neus en keelspesialis in Windhoek en ons is deur alle allergie toetse, die werke. Ons het toe saam 'n teorie uitgewerk. Die neus droog uit van die lug. Soek klammigheid en sit die sinus aan die werk. Die sinus drup egter postnasaal - agter in die keel af en al jou ellende begin: mangels, stembande en keel raak septies, naar, koors ens. Ons begin toe my neus kunsmatig natmaak en onmiddellik was die probleem opgelos. Ek is nou jare gesond en kry net af en toe gewone verkoues wat aangesteek word van meng met ander mense. Ons het gebruik gemaak van 'liquidparafien' met 5% mentol wat die apteek ingooi net om dit 'n bietjie aangenaam te maak. Dit word met 'n oordrupper ingesit. Lekker gemors vir 'n ou met 'n snor hoor. My ander huisvriend - ook 'n oor/neus/keel spesialis was nie baie 'happy' met my en my dokter se behandeling nie. Hy is bang dat die ragfyn neushaartjies wat die skoonmaak en temperatuur van inkomende lug reël, ens op die lang duur beskadig kan word. Ek het maar altyd geleer om na raad/kritiek te luister en te hoor. Ons het dit dus gekontroleerd gedoen. Aanvanklik elke dag, veral in die aande en as jy 'n waaier in jou kamer het vir koelte en muskiete raak dit nag vir die sinuslyer. Maar later het jy 'n aanvoeling - my neus is droog. Dan wag ek net tot niemand kyk nie, dan steel ek uit my vrou - 'n skoonheidskonsultant -se olies en smeer sommer met die vinger. Ek smeer darem net een keer hoor! Ek hoop dit help! Vir my het dit want sinus het my totale persoonlikheid amper 'n knak gegee - jy's nooit gesond nie en voel permanent goor. Ek loof die Here ek's gesond. 

Danie:

Jou dogter met die probleem moet met elke ete rou Cayene peper oor haar kos eet en sien daar! die sinus probleem is iets van die verlede. Gee dit egter so twee weke om te normaliseer. 

Dit is mos rooipeper waarvan jy praat, né? Dink jy nie dit sal haar mond brand nie. Sy het nogal 'n sensitiewe tong (soos Marmite brand haar tong).

Ja dit is so,  jy moet net die regte hoeveelheid gebruik. Mens raak dit gou gewoond. Ekself gebruik dit al die afgelope 2 jaar. Die is 'n homeopatiese raat wat werklik werk en koste is minimaal in vergelyking met medikasies wat duur is en moontlike nagevolge het. Die oosterse nasies eet baie skerper geregte hul lewe lank.

Elbert :

Ekself is allergies vir huisstofmyt wat sinus veroorsaak en dan ook soms oorslaan na asma.
Korttermyn : 
1) Smeer drie druppels OLBAS olie (verkrygbaar by enige apteek deesdae) bokant elke wenkbrou met slapenstyd. Bind dan toe met 'n sakdoek of bedek met 'n sweetband. Rede is dat die walms so sterk is dat dit 'n mens se oë brand. Sorg ook dat die olie nie met die oë in aanraking kom nie. Een van die olies in OLBAS tree ook op as 'n lokale verdower en sal dan 'n hoofpyn agter die oë wegstreel met tyd (werk selfs vir Migraine). 'n Mens kan ook 'n bietjie binne-in die neusvleuels invryf vir gemakliker asemhaling. Kos 'n bietjie duur (deesdae so R36 vir 'n botteltjie, maar dit hou 'n minimum van 6 maande).

2) Suig Fisherman's Friends Sugar Free Tropical Pack (ligblou en wit diagonale strepe, vervaardig in Lofthouse, Engeland, sommige apteke, soms by SPAR, soms by Clicks, 'n mens moet maar soek) vir die keel irritasie wat met die 'post nasal drip' gepaardgaan. Dit bevat bloekomolie en is sterk vir mense wat dit die eerste keer suig - is egter 50 keer meer effektief as Halls of Strepsils (wat net werk terwyl 'n mens dit suig). So om en by R 12, 50 'n pakkie van 22 suigtablette (as u onder R 10 'n pakkie opspoor, koop dan sommer 10 pakkies)

3) Moet nie iets soos Sinutab (wit en pienk tablet) drink nie, want dit droog die sinusse op. Die sinusse moet juis soos 'n hond se neus klam en nat bly. Sinutab droog die sinus op, en dan begin die sinus later weer loop en dan loop dit oor die droë 'kors' en dan drink 'n mens weer 'n Sinutab en dan droog dit weer op en so pak die lae saam totdat die enigste uitweg 'n sinus operasie is wat ook net hou vir 'n rukkie (Sien Langer termyn opskrif hiervoor). Probeer dus wegbly van enige iets wat die sinusse opdroog (mmmm, weet dis nie altyd maklik nie). 
4) Drink 'n Phenergan 10 mg pilletjie saans voor slapenstyd - goedkoop blou-groen antihistamien tabletjie vir die allergiese reaksie (so-iets soos R 22 vir 50). 

5 ) Snuif die mengsel 'koeksoda/sout' oplossing aangemaak in louwarm water. Gewoonlik nie aangenaam nie, maar bring tog verligting. Een teelepel koeksoda gemeng met een teelepel sout in 'n koppie - verdun verder indien te sterk, oppas vir te sterk aanmaak, dan brand dit te veel.

6) Die maagpyn (en daar behoort naarheid ook te wees) is a.g.v die slym wat ingesluk word en dan in die maag beland. Sy moet so veel as moontlik uitspoeg en nie sluk nie. Die neus, keel en oorkanale is juis so gemaak dat 'n mens slym agter in die keel intrek (wanneer 'n mens snuif of sluk) en dis daardie 'gagga' wat 'n mens heel diplomaties in 'n wasbak of êrens moet gaan uitspoeg (Reader's Digest artikel van 2001 iewers). 

Langer termyn oplossing :
1) Vitamien-C tablet elke dag. Verkieslik 'slow release'. 
2) Sink (Zinc) tablet elke dag. 
3) Mutivitamiene (vir kinders) tablet elke dag. 
4) Sambucus Compound (Post Nasal remedy - Weleda) : 12 druppels in 'n bietjie water elke uur op die uur gedurende die dag. (Sowat R 65 vir 'n groot bottel, die klein bottel hou my nie lank nie :-), dus 'n effe aan die duur kant.)

By my begin dit eers na sowat 2 en 'n half dae werk (tussen 48 en 72 uur). Gebruik dit vir ten minste 10 dae. kan na 5 dae afskaal na 'drie keer per dag voor etes). Goed, wanneer die Sambucus beginne werk dan maak dit die sinusse in die wangbene ook skoon. Die eerste keer wat 'n mens dit gebruik dan kom al die groen-taai gagga uit en dan is dit eers belangrik om it uit te spoeg (jip, lelik om te sê, maar daar kom inderwaarheid 'klonte' los en uit.) Dis dan uiters belangrik om 'n Fisherman's Friend te suig om juis te verhoed dat die keel ontsteek a.g.v al die 'post nasale drup' goggas wat nou uitkom - andersins kan die keelseer omskakel in 'n 'kopverkoue' of 'longontsteking' of gepaardgaande verkoue en griep. Na 14 dae lyk dit of die Sambucus sy effektiwiteit verloor, intussen is dit omdat alles nou 'losgekom' het. Staak dan die gebruik vir sowat twee weke en gebruik dan weer, indien nodig.  Goed dis nou die eerste raad vir wanneer die seisoene verwissel, juis soos nou (rook, stof a.g.v minder reëns). In die Lente is dit weer stuifmeel en dies meer wat weer die sinusse 'aanval'. 

Tweede raad is om die sinusse te laat stoom of oopmaak deur 'n fisioterapeut. ('n Sauna met bloekomolie gegooi op die 'stoom klippe' help ook - ek verkies 'n stoombad, aangesien dit nie so uitdroog nie - dis nou wanneer ek wel by so-iets kan uitkom).

Susan:

Ek het jou navraag gelees oor jou dogter se probleme met sinus. Ek het 'n wonderlike kuur gekry wat werk, maar dit moet gereeld gebruik word en help vir hooikoors, allergieë, sinus, ensovoorts.
Meng die volgende baie goed en plaas in houertjie:
2 eetlepels borrie
2 eetlepels gemmer
2 eetlepels kaneel

Koop dan 'n fles heuning.
Meng 'n gelyke hoeveelheid (kwart teelepel (gelyk) van mengsel en kwart teelepel (gelyk) heuning in 'n kwart koppie louwarm water. Meng goed en drink.
Afhangende van hoe erg die toestand is, beveel ek aan dat sy dit vir die eerste week of wat 4 maal per dag drink en dan afskaal na so twee maal 'n dag. Dit is nie verskriklik sleg nie maar werk regtig goed en is natuurlik. Geen meer sinustablette of medikasie is dan nodig nie. Dis ook nie baie duur om vol te hou daarmee nie.
Hoop jy vind resultate sou jy dit wel probeer.

Talitha

Ek het self 'n seun wat baie allergies is vir Gauteng. Sy sinus sit gereeld om in asmatiese brongitis, so ek weet nie of my raad vir jou kind sal help nie.. Wat sover die beste vir hom werk is Flexi Tide Inhaler. Hy kry elke oggend en elke aand 'n spuit. 

Tina

Ons kinders, en my man, het baie met sinus en hooikoors gesukkel tot ons preserveermiddels (veral swaweldioksied = sulpher dioxide) uitgeskakel het. Dit kom veral in koeldranke voor. Ook kleursel, veral rooi en pienk, is sondebokke. Verder ook roomys, kondensmelk en allerhande goed wat suiker bevat. 

Dis nie maklik om kinders van die goed weg te hou nie, maar dit het wonders verrig in ons huis. Dit raak naderhand 'n lewenswyse wat hulle met hulle saamvat tot hulle volwassenes is.

Anoniem:

Sterkte en innige simpatie met die sinus!! Ek kry sinus vandat ek in 1984 in Pretoria kom woon het ... Iets wat baie help, al genees dit nie, is 'n Sjinese middel, genaamd White Flower Oil. In Pretoria het ons baie Sjinese snuistery-winkels en straatsmouse en hulle hou dit aan. Die olie ruik baie skerp, dit word NOOIT gedrink nie, net aan die vel gesmeer. Dit help vir daardie drukking en toe gevoel, ook vir die pyn. Ek smeer dit onder my neus en agter my ore en die laaste vier jaar gaan dit veel beter. Ek het teen 1998 so pyn gehad dat ek opgegooi het van die seer en dit het nog nie weer gebeur nie. Ek hou ook nie daarvan om pille te drink nie en hier is dit nie nodig nie. As die pyn nog erg raak, drink ek maar 'n pil of twee, maar dis minder as een keer in twee maande!

Jy sal sien die pamflet by die bottel vertel dat dit sommer alles van hoofpyn tot ingroei toonnaels kan verlig ... Ek hou maar by die gebruik vir sinus, maar het ook al uitgevind dis "magic" vir jeukende muskietbyte en hou die pestillensies weg van jou af! My vriendin sweer dit het haar lugsiekte genees. Dis ook goed vir klein snytjies of skrapies, maar brand sewe soorte eina uit jou uit.

Nog 'n wenk - hou altyd VER van jou oë af.

Dit kos so R30 per botteltjie en hou my ver oor 'n jaar.

Louis:

Hi Magda, ek het ook 'n redelike sinusprobleem in Gauteng, by die see is alles reg. Daar's so baie stories, een is die lug is vogtiger by die see, so kry 'n 'Humidifier' in jou kamer - dan slaap jy lekker.  Ek gebruik Drixine sproei slegs saans voor ek gaan slaap dan bly my neus 12 ure oop. As jy dit bedags ook gebruik, werk dit later nie meer so effektief nie. NB net saans so 7pm dan kan jy ten minste slaap.

Anoniem:

Hierdie is 'n boereraat wat beslis vir my help.

Meng 1 kop warm water met 1 tel koeksoda, 1 tl sout, ½ tel suiker. Laat
afkoel. Dit kan onbeperk op 'n dag gebruik word. Ek gooi myne in 'n
neusspuitbotteltjie en spuit so 6 spuite in elke neus. Druk jou neus toe en
hou jou kop vir 'n hele ruk agteroor. Jy gaan voel hoe loop dit in jou keel
af. Ek hoop dit sal vir jou werk.

Anoniem:

Dit mag vir jou miskien na nonsens klink maar glo my vir my het dit soos 'n bom gewerk. Ek het altyd 'n toe neus gehad en moes deur my mond asemhaal, in die nag kon ek skaars slaap so geblok was ek, my oorlede skoonmoeder het gesê ek moet "Brewer's Yeast" pille drink en ek het by myself gedink dit sal nooit werk nie. Een middag was ek behoorlik moedeloos en ek het my seun gestuur om die pille te gaan koop, ek het dadelik drie pille gedrink en na omtrent 'n uur kon ek die verskil voel en vir die eerste keer in 'n baie lank tyd het ek die nag deur geslaap sonder daardie benoudheid.

Ek het vir omtrent twee weke drie pille elke oggend, middag en aand gedrink en daarna vir omtrent 'n week drie pille per dag en tot nou toe is my neus oop en dit is nou omtrent twee jaar. Sodra ek bietjie begin nies en ek voel toe, drink ek drie pille en ek is weer reg vir 'n baie lang tyd.

++++++++++++++

Ek hoop dat een van hierdie rate jou sal help.

<><><>

Terug na die hoofblad. Klik HIER