Hieronder is 'n voorbeeld van 'n gebedsaksie e-pos:

 

 

Liewe Gebedsmaat
 
Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie,
want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. 
Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. 
Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. 
Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. 
Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. 
Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie.
(Psalm 37:1-7)
 

LUISTER AS GOD FLUISTER - www.gebed.co.za

Dag se oordenking - "Leef soos Jesus" deur Colin Lamont.


GOD THOUGHTS - www.godthoughts.co.za

Vandag se gedagte op 'God thoughts' - In Christ, this is who I am and what I have.

 
SWAARD VAN DIE GEES.

Mattheus 1:23: "'Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.' Die naam beteken God by ons."
 

OORDENKING.

DIE BETER KOERS - Manie Colyn.
 
LEES: Hebreërs 12:1-3: "...laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop" (vs.1).

Dr. Phillip Brooks word een oggend deur 'n lidmaat besoek. Hy wil van die lidmateregister geskrap word. Hy kom nie meer in die kerk nie, het ook nie meer tyd vir gebed en Bybellees nie. Sy sakebelange eis die tol. Hy wil nie net oënskynlik 'n Christen wees nie. Dr. Brooks probeer hom teëgaan, maar die man is vasbeslote. Net toe klop 'n armoedige seuntjie aan die deur en vra angstig vir dr. Brooks om sy ouma te kom besoek. Sy is baie siek en arm. Dr. Brooks sê vir sy afvallige lidmaat: "Ek kan nie nou gaan nie. Ek moet 'n begrafnis gaan hou. Wil jy nie asseblief saamgaan en sien wat vir die vrou gedoen kan word nie?" Die man is dadelik gewillig en volg die seuntjie na 'n armoedige krotjie van 'n kamer toe. Binne-in die kamertjie lê 'n blinde ou vrou in diepste ellende. Toe sy die voetstappe hoor, roep sy uit: "Ag, dankie dr. Brooks, dat u gekom het. Ek is siek en honger. Bid asseblief eers vir my." Die afvallige man het vir 'n lang tyd nie meer gebid nie, maar hy kry dit nie oor sy hart om die ou vrou teleur te stel nie. Terwyl hy weifel smeek sy met groter dringendheid: "Bid asseblief vir my, dr. Brooks." Die man kniel by die bed. Eers bely hy sy sonde en afvalligheid en smeek God om na sy onwaardige gebed te luister. Hy het ontroering vir haar. Toe hy opstaan sê hy vir haar: "U het seker gehoor ek is nie dr. Brooks nie, maar u het my gehelp. Wat kan ék nou vir u doen?" Sy het nie verstaan wat hy bedoel het nie, maar enige hulp sou vir haar welkom wees. Hy kyk alles deur, gaan winkel toe en koop vir die vrou alles wat nodig is. Terwyl hy dit doen word sy hart al ligter. Die hemel begin oopgaan. Hy weet God het hom nie verwerp nie, maar gee vir hom 'n nuwe geleentheid om vir Hom te lewe en te werk. Hy haas hom terug na dr. Brooks toe. "Ek wil nie meer bedank nie," sê hy vol blydskap. "Nou wil ek vir God werk." Hy het God prysgegee en gedink God het hom ook prysgegee. Hy het nie rekening gehou met die liefde van sy Hemelse Vader vir hom nie. God se liefde verander nie! God het sy geestelike verval op die regte manier genees. Nie rus nie, maar aktiwiteit is die genesing vir 'n gees wat flou raak. "Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word" (Hebreërs 12:12).

GEBED: Here, vandag rig ek my op en steek my hande uit na die werk wat U wil hê ek moet doen.

(Uit: DESEMBER 2012 - ARGIEF - LUISTER AS GOD FLUISTER - www.gebed.co.za)


GEBEDSVERSOEKE - 16 AUGUSTUS 2018.

ALGEMEEN.

Gebedsmaats, bid asseblief vir tannie Heleen, wat môre na 40 jaar verhuis. Sy moes die afgelope paar jaar erge emosionele afbreking deurmaak, maar het nou besluit om 'n nuwe begin te maak. Vader, U ken haar hart en onsekerheid vir die onbekende. Maats, bid asseblief dat God haar sal toevou met Sy liefde en genade en dat alles vlot sal verloop. Vader, wees U met haar op die pad waar sy baie ver alleen gaan bestuur en stuur U engele vooruit. U weet hoe bitter lief sy U het en daarom bid en vra ons dat U haar sal seën op elke gebied in haar lewe. Dankie Jesus.    U kinders M&C

Bid asseblief dat my man emosioneel volwasse en sensitief vir my emosies sal wees. Bid dat hy hom nie emosioneel, verstandelik of fisies van my weerhou nie. Bid dat hy getrou sal wees teenoor my in sy gedagtes en lewe, dat hy my sal bystaan deur dik en dun en moeite doen om my gelukkig te maak. Bid dat hy ons huwelik 'n prioriteit maak en dat hy sal wil hê dat ons gelukkig en voorspoedig is. Ook dat hy self sal besef as hy nie reg optree teenoor my nie, dat hy lief sal bly vir my en dat hy my spesiaal sal laat voel. Bid dan ook dieselfde vir my teenoor hom. Bid dat, as een van ons onvergifnis in ons harte het teenoor mekaar, Heilige Gees ons sal lei en help om volkome te vergewe. Dankie.    Adele

Bid asseblief in Jesus Naam dat die prokureurs vir ons wonderlike inligting gee sonder koste.    M


FINANSIES.

Bid asseblief vir my skoonma. Skoonpa is 'n maand gelede oorlede. Bid asseblief dat alle pensioengeld outomaties sal teruggaan pensioenfonds toe, want dit is gister inbetaal in hulle gevriesde rekening. Sy het 'n nuwe rekening oopgemaak, maar die pensioenfonds sal dit eers die einde van die maand verander en nou kry sy nie geld hierdie maand nie. Dankie.    Adele

Bid asseblief dat K en D die agterstallige huur sal betaal, soos wat hulle al maande lank belowe. D sê dit sal Vrydag alles betaal word.    Klein


GESONDHEID - ALGEMEEN.

Bid asseblief vir Tannie Adrianna Ferreira, wat beroerte gehad het. Dankie.    Ria

++++++++++++

 

Om terug te gaan na Egafrikaans, klik net HIER