Liewe Gebedsmaat
 
Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. 
Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: "Ek word deur God versoek" nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. 
Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. 
Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. 
Moenie julleself mislei nie, my liewe broers. 
Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. 
Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.
(Jakobus 1:12-18)

Geniet die naweek!    Risa


LUISTER AS GOD FLUISTER - www.gebed.co.za

Dag se oordenking - "Verlange" deur Louis Nel.


GOD THOUGHTS - www.godthoughts.co.za

Vandag se gedagte op 'God thoughts' - Words to build a marriage on.

 
SWAARD VAN DIE GEES.

Johannes 1:4: "In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense."
 

OORDENKING.

DIE TAS REG GEPAK - Manie Colyn.

LEES: Psalm 25: "Here, maak my U weë bekend; leer my U paaie. Lei my in U waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag" (vs.4,5).

'n Reisiger is besig om sy tas vir 'n reis te pak. Hy sê vir sy vriend. "Daar is nog 'n hoekie oop, waarin ek graag 'n gidsboek, 'n lamp, 'n spieël, 'n teleskoop, 'n boek oor gedigte, 'n aantal biografieë, 'n bondel ou briewe, 'n liedboek en 'n skerp swaard wil pak. Al hierdie belangrike artikels moet in daardie hoek van die tas inpas." "Hoe op aarde wil jy dit regkry?" vra sy vriend verbaas. Hy antwoord: "Maklik. Die Bybel bevat al hierdie dinge wat ek vir jou genoem het, en daar is net genoeg ruimte nog vir my Bybel." Walter Knight skryf: "The most wonderful, the most marvelous book in all the literature of the world is the Bible, because it is God's own Book!"
 
Jesus is vir ons ons Weg en Gids hemel toe, maar ons beleef aardse situasies wat hulp en raad uit ons hemelse bron nodig het. Ek identifiseer net 'n paar, probeer om self die ander raak te sien. Ons padkaart hemel toe, die lamp wat gedurig lig moet bring waar dit in ons hart donker word, 'n spieël, sodat ons onsself kan sien, en dit lei dikwels na belydenis van sonde, en so kan ons prakties bepaal wat ons uit die Bybel vir ons reis hemel toe moet gebruik.

Ons is God se mense wat deur hierdie wêreld van sonde op 'n kort en sondebedreigde pelgrimstog reis en ons het nodig om een ding te weet, of ten minste daarna te vra: "Is ek nog op die regte weg hemel toe?" God het die koers en die weg hemel toe vir ons duidelik in Sy Woord, ons Bybel, aangewys. Die artikels wat die man dus genoem het wat ingepak moet word, is die dinge wat ons ook op 'n gewone, moeilike reis nodig sou hê. Hierdie Woord van God is daarom absoluut noodsaaklik as ons praktiese gids en voorsiening vir ons geestelike behoeftes op ons, soms moeilike reis, hemel toe. Dit gee vir die gevalle mens die beste aanwysings wat hy op hierdie tog nodig het: die liefde, die genade, die ontferming van ons Drie-enige God.

Hoeveel keer het ons nie in ons daaglikse lees van die Bybel, juis die raad en beloftes gevind wat ons daardie dag, of oomblik, nodig het nie? Kom ons raadpleeg daagliks God se Woord vir God se hulp op ons daaglikse reis ewigheid toe. 

GEBED: Here, vandag soek ek raad in U Woord.

(Uit: JANUARIE 2013 - ARGIEF - LUISTER AS GOD FLUISTER - www.gebed.co.za)


LOF EN DANK.

Aan die Hemelse Vader, en almal wat vir my gebid het, baie dankie, die huis is mooi reggemaak.    M


GEBEDSVERSOEKE - 7 SEPTEMBER 2018.

ALGEMEEN.

Bid asseblief vir Calvin. Die Here weet wat hy nodig het.    Anoniem


FINANSIES.
 
Bid asseblief saam met my vir voorsiening van finansies van ons liewe Heer. Die Vader ken my omstandighede. Dankie Jesus, vir U voorsiening. Amen.    Karen


GESONDHEID - ALGEMEEN.

Bid asseblief vir my vir beterskap. Ek word altyd siek wanneer ek dit die minste kan bekostig. Ek moet 'n bejaarde ouer versorg en alles in die huis en tuin behartig. en my "siekverlof" spandeer ek deur noodsaaklikhede te doen en in te haal met dinge waarmee ek agter is. Ek is verskrklik uitgeput, na gees, siel en liggaam. Ek kan net nie meer nie.    Anoniem


HOFSAAK.

Bid asseblief vir Isabel se hofsaak op 12 September. Bid asseblief dat die saak in haar guns sal draai, sodat sy haar en haar dogter se blyplek sal terugkry. Dankie vir julle gebede. Sy het soveel gebede as moontlik nodig, asseblief.    Moeder


WERK - ALGEMEEN.

Bid asseblief in Jesus Naam dat Eddie goeie werk sal kry.    M
 

HULP EN RAAD.

Liewe gebedsmaats, bid asseblief dringend vir my. Ek voel al geruime tyd baie, baie moeg; ek is rusteloos, moedeloos en het lus vir niks! Ek lees al vir die afgelope paar maande nie meer my Bybel nie, ek raak onder gebed aan die slaap en ek kan soggens nie my oë oophou nie. Ek werk bedags en sukkel om wakker te bly. Maar wat my die ergste pla, is my geestelike lewe - ek is laks en doen net mooi niks vir die Here nie! Sal die Here dit verstaan?    Berti

Berti, 1. Die Here verstaan waardeur jy gaan en Hy dra jou! 2. Kry vir jou 'n multivitamien en elemente aanvulling teen die moegheid. Dit sal ook help as jy by 'n dokter kan kom vir 'n algehele ondersoek en toetsing. Die oorsaak van jou moegheid is dalk iets klein wat vinnig reggestel kan word.    Nic

++++++++++++