Begin jou dag 'n slag met 'n lag nommer 1163
Liewe vriende,
Vandag gaan ek met 'n kort godsdienstige paragraaf begin, want toe ek dit
hoor, het dit my nogal getref:
Ek hou daarvan as die dominee met 'n voorbeeld iets wil verduidelik, want
dan verstaan ek dit ook sommer beter. Ek dink baie persone wonder wat dit
presies beteken dat as jy vir Jesus aangeneem het dan woon jy in Hom en Hy
woon in jou. Toe hoor ek gister die volgende verduideliking en dit is kort
en saaklik en maak sin:
As jy 'n glas neem en jy gooi rooiwyn daarin (dit kan enige vloeistof wees)
en jy neem 'n lappie en druk dit in die rooiwyn in, dan is die lappie mos
binne in die rooiwyn. Indien jy egter mooi daaroor dink, dan is die rooiwyn
ook binne in die lappie. Nou is dit nie soooo moeilik om te verstaan nie,
dat jy in Jesus en Jesus in jou kan woon nie.
O o 0 o O <><> O o 0 o O
Ek plaas nie graag iets in Engels nie, maar hierdie een is so oulik dat ek
die versoeking nie kan weerstaan nie. Soos die gebruikers van Skype weet is
daar soms na 'n ou se naam so 'n oulike gesegde. Een van ons
begrafnisondernemers in die land se slagspreuk op Skype is:
Don't worry be happy, your coffin is ready.
O o 0 o O <><> O o 0 o O
Nutsman. Skakel Adriaan: 083 425 2684. E-Pos:
adriaan_meyburgh@yahoo.co.uk.
Ek doen: “Drywalling”. Elektriese Heinings. Elektriese Werk. Vervanging
van slotte. DSTV Installasies. (1 - 3)
O o 0 o O <><> O o 0 o O
DIE REëN HET GEKOM!!
(Ingestuur deur - Eugene van Springbok.)
Somer se hitte lê swaar op die land
Wind waai dwarrels oor die sand
Die stoflaag lê oor veld en dorp,
Die plantegroei is dor en dood.
Almal sug, wanneer kom die reën?
Die berig kom, koue fronte is op pad!
Die wind waai koel, suis oor die rant.
Wolkstrepe hang hoog in die lug,
Vroeë skemer, wolke keer die lig.
Koue, ja, moontlik ook die reën.
Bed toe, lê en luister op die katel.
Laatnag, die wind begin ruk en ratel
Nanag, hoor die boomblare se gedrup
Hoe tjorrel en giggel die geut se pyp
Kruip dieper in, die reën het gekom!
Dagbreek is laat, skemerdonker buite,
Dreuning op die dak, gorrelende pype
Die veld onherkenbaar, agter ‘n gordyn
Die reën hou aan en aan, sonder kwyn
Die aarde jubel, die reën het gekom!
Vroegaand is die donker hier,
Tyd vir rooiwyn en kaggelvuur.
Die lug is koud, die vuur is warm
Buite val die reën ewe oor ryk en arm
Binne is dit gesellig, die reën het gekom!
Die reen is verby, die wolke is ligter
Die son probeer deurkom, half skugter.
Breek effens deur, kolletjie, strepie.
Skyn dan sterker, ontbloot ‘n sprokie.
Alles jubel, die reën het gekom!
Die aarde is skoongewas, stof is verban
Kokerboom staan verfris teen die hang
Blare vet en stewig van die kosbare vog,
Dankbaar, gekroon met nuwe blommedos
Jubelend, juigend, die reën het gekom!
Die hele wêreld is skoon, verfris, nat
Die paaie is verspoel, onrybaar glad
Tyd nou om langs die pad te gaan staan,
Die veld rondom my gade te slaan.
Namakwaland jubel, die reën het gekom!
O o 0 o O <><> O o 0 o O
Jy kry nou 10 000 SMS’e vir net R50! Jy het heeltemal reg gehoor! Met
Mzansi SMS kan jy nou SMS’e stuur teen die goedkoopste tariewe ooit in
Suid-Afrika. Daar is boonop geen maandelikse intekenaarfooie of kontrakte
nie. Bondels SMS’e van soveel as 10 000 per bondel is nou beskikbaar vir
net R50. Kontak gerus vir Hein van Wyk by 083 310 1963 vir meer
besonderhede of e-pos na
heinvwyk@mweb.co.za
(2 - 3)
O o 0 o O <><> O o 0 o O
DIE WYNPROE MARATHON - Corinus
Met die dat nasate van die Vikings blykbaar een van hulle vulkane so goed
die moer in gemaak het dat lugverkeer wêreldwyd bietjie ontwrig is, is my
Londonse nasate se kuier hier in die Noorde van die Suide noodgedwonge met
so 'n tien dae verleng. Ek kla natuurlik nie, want Amelia as oudste
kleinkind kom toe sommer vir nog vier dae by Oupa kuier. Wat 'n lekkerte as
Ouma en ek haar deur die dag kan ervaar (en natuurlik is daar geen bederf
nie!) en Ma en Pa doen dan die nagdiens skof! Sommer vroeg soggens al klink
haar stemmetjie voor ons kamerdeur op. "Oupa, Oupa, Oupa",
afgewissel met so 'n dan en wan se "Ouma, Ouma, Ouma".
Polokwane het die afgelope naweek sy jaarlikse wynskou gehad en met die dat
die kinders toe weer by ons kuier, is dit die ideale kans vir my en Grove om
Saterdagaand bietjie daar te gaan inloer. (Met die eerste een was my seun
Cobus uit die VSA hier.) Dis 'n nat en trietsige naweek, maar binne die
lokaal kuier en proe die wynliefhebbers gesellig 'n hond uit 'n bos uit.
Grove aard na hom pa en saam besluit ons op 16 uit die 45 kelders wie se
rooiwyne ons net eenvoudig op die proe(f) moet stel. Hier in die Noorde van
die Suide drink die manne hoofsaaklik Dop en Dam, so nou en dan afgewissel
met 'n biertjie of vyf. Die drankwinkels rig hulle wynvoorraad dus oor die
algemeen op die sogenaamde populêre smaak, sodat mens sommige kelders se
wyne net nooit hier kry nie. Met die ikoniese Platter 2010 wyngids as
maatstaf, kies ons 85 rooiwyne om in vyf ure te proe. Wat 'n vooruitsig! Wat
'n plesier!
Genoeg om te sê dat ons die ou takie in net so kort van vier ure kafgedraf
het en toe sommer vir 'n tweede rondte van ons 13 finale keuses kon gaan -
net om te bevestig, sien. Ons besluit toe ook dat daar geen manier is dat
mens waarde uit 'n bottel wyn kan kry wat R600 geprys is nie - veral nie as
daar baie ander van dieselfde gehalte vir 'n vyfde van daardie prys te kry
is nie. Dit laat ons maar aan die snobs oor vir wie prys die belangrikse
maatstaf is - hoe duurder, hoe beter moet die wyn mos wees. So 'n raps na
negeuur die Saterdagaand stap ons twee heel gesellig by die huis in. Dis sou
mos 'n aardsonde wees om sulke kunswerke as wat ons oor ons lippe gehad het,
uit te spoeg (en dan praat ek nie eers van die klap in die gesig van die
wynmakers nie). Dus, wat geproe is, is ingesluk. Gelukkig het Grove in
Marike 'n vrou soos sy Ma getrou. Een wat besef dat daar somtyds dinge is
wat 'n man net eenvoudig moet doen en wat sy so moet aanvaar. Alles is dus
'n heel gemaklike temperatuur tuis - kos, koffie en vrouens.
Sondag is toe die dag vir die vrouens. Marike se smaak is aan die droë
kant, dus trek ons Platter weer nader en kies 25 witwyne by 18 kelders om
bietjie tyd mee te gaan verwyl en ek ontdek 'n paar kelders van wie se
rooiwyne ek die vorige aand misgeproe het. Vriende van ons, Deon Richter
(rooi) en Ankie (wit) gaan saam. Daar is drie ure beskikbaar, maar wat, toe
die minuutwyser die tweede keer sy kring voltooi het, is ek en Marike en
Ankie een kant in en anderkant uit geproe, met Ankie wat minstens vyf keer
daartydens plegtig verklaar het dat sy haar proe-limiet bereik het. Lekker
verby.
Beter Helfte se smaak is beslis sterk aan die soeterige kant en omdat dit
haar heel eerste wynproe sal wees, kies ons vir haar net 18 wyne. Grove is
'n man vir die rooiwyne, dus besluit hy om sy moeder op haar proe-sessie te
vergesel. Het blykbaar die vorige aand genoeg geproe (toemaar, ek het sy ma
se woord dat hy my seun is). As ek na sy notas kyk, het dit naastenby soos
volg verloop.
Beter Helfte is iemand wat, as sy 'n ding aanpak, dit met oorgawe doen en
dan aanhou daarmee totdat sy klaar is. Sy pak dit aan soos 'n marathon -
laat haar kop by die wegspring sak en lig dit eers weer by die eindpunt op.
Dus vaar sy soos 'n ou tientoontrekker die een kant van die proelokaal binne
en stoom in donkierat voort tot aan die ander kant. Van die naastenby 1700
(maar ek kan verkeerd wees) geure wat die mens se neus kan optel, weet sy
niks - is net ingestel op die ongeveer vier in haar mond. Dus, vat haar
glas, gee dit so 'n terloopse snuif, neem 'n mondvol, spoel dit so een of
twee keer in haar mond rond en sluk. Maak daar en dan haar beslissing bekend
en vra "Grove, wat is volgende?" Met die eerste wyn het sy darem
nog probeer, want Grove se nota lui "Baie lig en prikbaar", maar
daarvandaan is dit meestal enkelwoord kommentare, met so 'n
beskrywende woord hier en daar bygevoeg.
"Baie goed; Los maar; Pragtig; Ma 'like' baie; Briljant; Te soet;
Lekker; Nee; Fantasties; Nie vir Ma; Ma hou van" en laastens
"Blerrie lekker" is enkele van die aantekeninge. Ek kan my indink
dat sulke kommentare 'n wynmaker tot raserny sal dryf, maar sy kry jou
wrintiewaar 10 wat in haar smaak val. So halfpad deur haar toer merk ek op
die wangetjies begin bietjie gloei en stuur haar en Grove in die olywe se
rigting sodat sy net 'n blaaskansie kan neem. Groot fout, want behalwe dat
sy omtrent al hulle bakkies leegproe, wil sy opsluit daarna hulle hele oes
vir die volgende minstens drie jaar in ons kruidenierskas ingeprop probeer
kry. Marike help my ook nie juis nie, want sy vind toe nog plek in haar
handbagasie London toe vir omtrent 'n halwe honderd bottels olywe - of so
lyk dit in elk geval vir my. Toe Deon ook nog bykom, koop die drie dat die
olyfolie so spat.
Halftwee roep ons halt en gaan eet iets. Die vrouens kekkel dat jy hulle wie
weet waar kan hoor. Beslis het die wynproe hulle praatknoppies aangeskakel
en hulle volumeknoppies opgedraai.
Dit sal onregverdig wees om spesifieke kelders uit te sonder, want daardie
wie se wyne ek ken, het ons oorgeslaan. Daar is egter 'n paar kelders wat op
my, Grove, Marike, Ankie en Beter Helfte se lysie bygekom het en wie se wyne
ons in die toekoms beslis en spesifiek voor gaan soek:
Vir rooi: Diemersfontein, Goede Hoop, La Motte, Raka, Rustenberg, Rust en
Vrede, Tokara, Vilafonte en Warwick.
Vir wit: Laborie, Mulderbosch (aaklige etiket ten spyt), Neethlingshof,
Plaisir de Merle, Rustenberg, Southern Right, Tokara, Vergelegen, Warwick en
Zevenwacht.
En dan vir Beter Helfte beslis Du Toitskloof, Glen Carlou, Muratie,
Neethlingshof, Pearly Bay, Theuniskraal, Zandvliet en dan Kanu wie se soet
Shiraz haar laat opmerk het "Pa, as jy hierdie rooiwyn koop, dan drink
ek dit saam met jou" - dit komende van iemand wat rooiwyn naastenby op
dieselfde vlak as kasterolie plaas.
O o 0 o O <><> O o 0 o O
NAAMSTROKIES – vir die merk van klere. Nuwe lint
van “ Ta Matt “ is nie nodig om om te soom nie en word met wye steke aan
die kledingstuk, lakens, doeke ens ens ens vas gewerk. Kan ook
op “ Satyn “ gedruk word en word ook vasgewerk. Jy is net so naby as jou
posbus van my af so ek pos graag aan jou – baie gou. Ek e-pos
graag inligting aan jou of skakel Worcester 023 342 6025 of 084 506 4426 of
kockie@telkomsa.net.
(1 - 3)
O o 0 o O <><> O o 0 o O
Vroutjie Ria, het die onderstaande in die koerant raakgelees en ek het dit
goedgedink om dit te plaas vir persone wat dit nie gesien het nie.
SEEVAARDER (16) NA 103 DAE IN DIE KAAP:
Die 16-jarige Amerikaanse seiljagvaarder Abby Sunderland het gister ná 103
dae sedert sy Kalifornië op haar alleenvaart verlaat het, nee dankie gesê
vir ’n hamburger toe sy in Kaapstad voet aan wal gesit het.
Op die oog af lyk sy baie rustig, maar sy is duidelik nie jou gewone
Amerikaanse tiener nie. Dit was ook net stuurprobleme wat haar gedwing het
om met haar seiljag Wild Eyes hierheen uit te wyk vir herstelwerk.
Die moedige vaarder het dadelik geen geheim daarvan gemaak dat sy baie
teleurgesteld was dat sy nie kon aanhou om in die rigting van Australië te
seil nie.
Dit was haar droom om die jongste vaarder te word wat sonder stilhouplek reg
om die aardbol seil. “Dit is steeds lekker om elke dag op die see te wees
en ná herstelwerk seil ek voort op my wêreldvaart,” het sy gesê.
Terwyl verteenwoordigers van die media met haar op die kaai by die marina in
die V&A Waterfront gepraat het, het mnr. Andrew Rosettenstein van ’n
plaaslike hotel haar probeer verras met ’n groot sappige burger en
skyfies.
Die tiener het gesê die slegste ding vir haar op die diepsee was die kos.
“Ek moes elke dag pakkies ontwaterde kos voorberei vir etes,” het sy
verduidelik.
Maar vir die hamburger het sy eers nee gesê. Dit het aanmoediging gekos om
haar te laat poseer met ’n aartappelskyfie in haar hand.
Zac Sunderland, Abby se ouer broer, was ook daar om sy suster te verwelkom.
Hy het verlede jaar self in die Kaap aangedoen toe hy as 17-jarige onderweg
was om die jongste vaarder te word wat alleen om die wêreld seil.
Die vliegtuig van die derde lid van die gesin, die twee tieners se pa, mnr.
Laurence Sunderland, het ook net betyds in die Kaap geland.
Sunderland is van die lughawe reguit na die Kaapstad-hawe geneem en daarna
met ’n rubberboot die water in om te sien hoe sy dogter haar epiese vaart
voltooi.
Wat is sy raad aan ouers as een van hulle kinders skielik sê hulle wil
alleen om die wêreld vaar? “Stuur hulle dadelik na ’n koshuis,” het
hy eers geskerts en toe meer ernstig gesê dit hoef nie ’n probleem te
wees nie as die kinders selfstandig genoeg is.
“Dit is soos my kinders grootgeword het. Hulle het van kleins af baie
geseil en hou daarvan. Niemand dwing hulle om dit te doen nie,” het hy
verduidelik.
“Ek het al van 13-jarige ouderdom drome begin droom oor die seilery. Nadat
Zac om die wêreld geseil het, het ek besef ek sal dit ook kan doen,” het
Abby gesê.
Zac het gesê hy was ook nooit baie bekommerd oor sy suster nie.
“Sy het elke dag twee keer met ons oor die telefoon gepraat.”
<><><>
(Al wat ek kan sê is dat die meisiekind beslis baie durf, moed en al
daardie goed het. OF miskien is sy nie lekker nie. Danie)
O o 0 o O <><> O o 0 o O
SONGEISERS:
Ons by Egafrikaans.co.za het met 'n verskaffer van Songeisers 'n prys beding
wat nie maklik geklop kan word nie. Ek dink ons aantal lesers het die ding
gedoen. Jy kan laedruk songeisers by ons bekom teen die volgende pryse:
100Liter - R2500
150Liter - R3800
200Liter - R5600
Dit sluit BTW en aflewering tot 100 kilo's van Pretoria af in. Vir die
genoemde bedrag ontvang jy die opgaartenk, vakuumpype en staander. Indien jy
meer wil weet, skryf gerus aan my by
D@nie.co.za.
O o 0 o O <><> O o 0 o O
RESEP - SAMPIOENSLAAI
Koop knopiesampioene - ongeveer 3 pakkies.
Marineer in Italiaanse slaaisous vir ongeveer 3 dae in die yskas.
Roer gereeld om.
Dreineer en dien op met enige iets of alleen
(blaarslaai./biltong/fetakaas/kersietamaties/ontpitte pruimedante/agurkies
ens.)
Nog lekkerder en as jy tyd het maak slaaisosaties deur dit in te ryg op 'n
stokkie.
(Moenie skrik as dit donkerder verkleur nie)
HEERLIK!!!
O o 0 o O <><> O o 0 o O
WENK:
Voeg ‘n bietjie asyn of suurlemoensap of witwyn by pannekoekdeeg om te
verhoed dat dit taai word.
O o 0 o O <><> O o 0 o O
REGISTRASIENOMMER:
In Nigel gesien - Janet J.
Ek raai dat haar van iets is wat met 'n "J" begin.
O o 0 o O <><> O o 0 o O
WYSHEDE:
Wees lief vir my wanneer ek dit die minste verdien, want dit is wanneer ek
dit die meeste nodig het.
O o 0 o O <><> O o 0 o O
NUTSMANNE in PRETORIA – Ons doen alles waarvoor “hardwerkende manne”
nie tyd of lus het nie – geen werk te groot of te klein, staalwerk: bou en
installasie van hekke en diefwering, algemene herstelwerk in en om die huis,
motorherstelwerk en dienste. Sweiswerk, vullisverwydering, ons het wye
kennis, ondervinding en genoeg gereedskap om ‘n groot verskeidenheid,
kwaliteit werk te verrig. Skakel gerus vir ‘n gratis kwotasie –
verwysings beskikbaar. Kontak Jacques 074 565 8725 of Hendrik 076 851 3692
e-pos
get.it.fixed.24.7@gmail.com
(4 - 6)
O o 0 o O <><> O o 0 o O
OORDENKING:
Johannes se Getuienis
Johannes 3:22-36
‘n Feit wat ons dikwels totaal mis lees, is dat Jesus, net soos Johannes
die Doper, ook mense gedoop het. Ons lees daarvan in Johannes 3:22-26, waar
Johannes gekonfronteer word deur ‘n Jood. Daar was ‘n stryery oor
reinigingsgebruike, en toe vra die Jood so terloops vir Johannes of hy bewus
is daarvan dat sy “Opposisie” ook nou hierdie doop-ding doen? Mense
stroom glo na Hom toe.
Hy het sekerlik gehoop om Johannes jaloers te maak, en toe speel hy die twee
teen mekaar af. Maar hy het nie met Johannes se lojaliteit teenoor Jesus
rekening gehou nie. Hy het nie in die minste bedreig gevoel hieroor nie.
Johannes maak dit dan ook baie duidelik dat hy homself maar net as ‘n
boodskapper sien. Sommige mense het dalk gedink dat Johannes die Christus
is, maar hy ontken dit heftig by herhaling - hy is maar net voor die
Christus uitgestuur. Hy doop in elkgeval nie omdat hy dink dat hy beter as
ander is nie, maar omdat God hom daardie opdrag gegee het. Hy voer slegs God
se opdragte uit.
Maar dit is nie al nie - Johannes besef al te deeglik dat Jesus waarlik die
Christus is. Daarom is Jesus baie groter as wat hy is. Hy, wat Johannes is,
moet minder word sodat Jesus, die Christus, verheerlik kan word. Dit is
immers sy doel op aarde - dit is waarvoor hy gestuur is.
Elke gelowige (dit is nou ek en jy ingesluit) is ‘n gestuurde, net soos
Johannes die Doper. Die Here het vir elkeen van ons ‘n uitgesoekte taak.
Vir Johannes was dit om die pad vir Jesus gelyk te maak. Hy het dit met
groot ywer uitgevoer. Die vraag is wat ek en jy maak met die taak wat die
Here vir ons gee. Doen ons dit halfhartig, net uit pligsbesef uit? Of maak
ons dalk soos die slaaf wat toevertrou is met die klomp geld - die een wat
sy geld gaan begrawe het?
Die vraag wat mense dikwels vra is: “Wat is dan nou eintlik my taak?”.
Ja, natuurlik is ons almal verskillend, en natuurlik het elkeen ‘n ander
opdrag van die Here. Die groot, oorkoepelende opdrag vind ons egter in
Matteus 28:19, waar Jesus nie alleen die Apostels nie, maar saam met hulle
ook elke gelowige die opdrag gee: “Gaan .... maak dissipels....”. Dit
beteken nie dat elkeen ‘n evangelis of ‘n sendeling moet wees nie. Maar
dit beteken dat ek bereid moet wees om die taak wat ek gekry het om die
uitbreiding van die evangelie te bevorder, moet uitvoer so goed as wat ek
kan - al is dit ook net om vloere te skrop! Een taak wat elkeen van ons het,
is om liefde te leef op so ‘n manier dat dit ander mense honger maak vir
die evangelie.
In die volgende paar verse speel Johannes die Doper in sy antwoord die
hemelse teenoor die aardse af. Hy maak in die eerste plek seker dat sy
hoorders deeglik daarvan bewus is dat Jesus uit die hemel kom - Hy is anders
as ons gewone aardlinge. Jesus, die Hemelse, is natuurlik dan ook verhewe bo
alle aardse dinge. As mense wil ons dinge uit ‘n eg-menslike oogpunt sien.
Ons “praat die taal van die aarde”. Ons wil dinge uitredeneer volgens
gewone natuurwette. Gisteroggend het ons byvoorbeeld by ons manne biduur
gepraat oor God se vergifnis, en toe sê ons vir mekaar dat ons dit glad nie
kan verstaan dat God se vergifnis totaal, allesomvattend is nie. Hoe is dit
moontlik dat Hy maar net elke keer weer en weer vergewe? Ons probeer dit
menslik beredeneer. Wat egter vir ons onmoontlik lyk, is by Hom moontlik.
Dalk is dit juis hierdie menslike redenasie wat gemaak het dat die Jode vir
Jesus verwerp het. Hulle het die wonderwerke gesien en hulle het die
wonderlike dinge wat Jesus gesê het met hulle eie ore gehoor. Maar omdat
hulle dit menslik (aards) wou uitredeneer, kon hulle dit net eenvoudig nie
aanvaar nie. Jesus was die vergestalting van God op aarde, maar die Jode kon
dit net eenvoudig nie glo nie. Hulle het die Messias vir hulleself baie
anders voorgestel. Hy moes ‘n magtige heerser wees wat hulle sou verlos
van die Romeinse heerskappy. Maar hier sien hulle ‘n Kneg wat kom doop en
dien en mense gesond maak en met kindertjies speel.
Dan waarsku Johannes hulle: “God het Hom immers gestuur”, sê hy. Wat
daardie mense nie besef het nie, was dat hulle God in aksie gesien het. Al
wat van hulle verwag was, was om dit wat hulle gesien het te glo en in die
geloof God se aksie te aanvaar. Johannes herhaal hier Jesus se woorde aan
Nikodemus (Joh. 3:16): “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe”, maar
hier is ook ‘n baie ernstige waarskuwing by: “wie egter aan die Seun
ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op
hom.” (Joh. 3:36). Om aan die Seun ongehoorsaam te wees, beteken om nie in
Hom te glo nie. God alleen kan die ewige lewe gee, en Hy doen dit alleenlik
deur geloof in sy Seun, Jesus Christus. Johannes wil doodseker maak dat nie
alleen die Jode nie, maar die ganse wêreld vandag daardie boodskap begryp.
Kom ons volg sy voorbeeld na en versprei die boodskap verder.
Gebed:
Here, help my asseblief om my opdrag om Jesus se Evangelie te versprei, met
ywer uit te voer.
Louis Nel (NG Kerk Noordkus)