Hier is 'n voorbeeld van een van ons geselsbriewe:

Begin jou dag 'n slag met 'n lag nommer 1550



Hallo Vriende,

Ek wil begin deur te vertel wat die afgelope naweek met my gebeur het. Ek plaas op Junkmail 'n advertensie oor die rolstoele en die Hoverboard wat ek wil verkoop. 'n Paar minute na ek dit geplaas het kry ek 'n SMS waarin die ou wat dit stuur vir my vra hoeveel van die rolstoele het ek. Ek antwoord hom en hy SMS terug dat hy almal sal neem. Ek moet net my bankbesonderhede vir hom SMS en hy sal dadelik die geld EFT en as ek dan kan reel dat dit Maandag (gister) aan hom gekoerier sal word sal hy bly wees. Ek blom van opgewondenheid oor die moontlike transaksie. Toe die opgewondenheid bedaar en voordat ek my bankbesonderhede vir hom SMS begin ek dink dat ek 'n rot ruik. Ek dink by my sigselwers dat hoe kan 'n ou wat ek nie eers ken nie en wat my nie ken nie derduisenderande vir my sal EFT. En verder dink ek dat hy die geld kan EFT en ek regtig die geld kan ontvang, dan stuur ek die rolstoele vir hom en nadat hy dit ontvang het, dan kanseleer hy die oorbetaling en hy sit met hy die rolstoele en ek met 'n bankrekening wat leeg is. Net daar besluit ek dat ek nie verder met die ou gaan "besigheid" doen nie. Toe ek niks van my kant af doen nie, het ek ook nie weer van hom gehoor nie.

Skaars 'n halfuur later kry ek 'n SMS van iemand heel anders (ek wonder of die iemand anders was) wat vir my SMS dat hy die Hoverboard sal koop. Ek moet net my bankbesonderhede vir hom stuur en hy sal die geld oorbetaal en sy bakkie stuur om die ding te kom haal. Ek SMS terug dat ek nie belangstel in EFT nie, maar as hy die bakkie stuur en die ou gee vir my die kontant, dan is die saak reg. Ek het nie weer van hom gehoor nie.

Na die storie toe dink ek dat ouens ook maar allerhande maniere bedink en 'n ou se geld in die hande te kry.

((o)) 000ooo000 ((o))

EKSAMENFLATERS:

Daar is vier simptome vir ’n verkoue. Twee daarvan het ek vergeet en die ander twee is te bekend om te noem.

Dit was ’n tydperk van groot uitvindsels en ontdekkings. Gutenberg het die wynpers en die Bybel uitgevind. Nog ’n belangrike uitvindsel was die bloedsomloop. Peter Stuyvesant is ’n geskiedkundige figuur, want hy het sigarette uitgevind en begin rook.

Die grootste skrywer van die Renaissance was William Shakespeare. Hy is in die jaar 1564 gebore en party mense dink dit was op sy verjaardag. Hy het nooit geld gemaak nie, en is net beroemd oor die toneelstukke wat hy geskryf het. Hy het tragedies, komedies en historektomieë geskryf. Romeo and Juliet is een voorbeeld.

Abraham Lincoln het Amerika se grootste president geword. Lincoln se ma is dood toe sy nog ’n babatjie was en hy is gebore in ’n houthut wat hy met sy eie hande gebou het. Hy is later doodgeskiet deur John Wilkes Booth, wat hulle sê ’n mal akteur was. Dit het Booth se loopbaan heeltemal geruïneer.

((o)) 000ooo000 ((o))

DIE BLIKKIES: Deur Frik:

As daar nou een ding is wat ons mense regoor die wêreld in gemeen het, is dat almal moet eet. Of jy arm of ryk is, geel, swart of wit, om aan die lewe te bly moet jy eet. As jy drie keer per dag eet, dan is jy bevoorreg en as jy een keer of minder eet dan is jy in die moeilikheid. Hoe maak jy om te eet as jy uitkamp in die veld en daar is nie vars proviand beskikbaar nie, of jou koskas het die einde van die maand bereik en jy moet iets doen om daardie maalvleis so ’n bietjie te rek. Die antwoord is maklik en jy moet maar net ’n blikkie uittrek en by die maalvleis gooi of ’n blikkie boontjies op ’n oop vuurtjie sit en warm maak. So ’n blikkie warm boontjies smaak darem heerlik as jy nie vir so ’n dag of wat nie te goed ge-eet het nie. Blikkies kos het sy ontstaan gehad so in die 1700’s. Dit is nie soos met die meeste kossoorte en uitvindings wat die Amerikaners voor Pa staan nie. Hierdie uitvinding het sy ontstaan gehad as gevolg van Napoleon Bonaparte. Hy het ’n kontantprys uitgeloof vir die persoon wat ’n effektiewe manier of metode kan uitvind om kos vir ’n lang tyd te stoor, sodat hy sy leer met proviand te kan voorsien. 'n Sekere Nicholas Appert het op die idee gekom om kos in bottels te stoor. Hy het gesien as mens kos in 'n lugdigte houer sit en warm maak, die kos nie sal sleg word nie. Peter Durand 'n Engelsman het die proses ’n stappie vêrder geneem en kos in ’n blikkie gesit en dit geseël en geprosesseer. Soos die oorloë begin toeneem het, het die navraag toegeneem na blikkies kos. Oorloë is nie altyd so sleg as wat mense dink nie. Daar kom so nou en dan iets positiefs uit ’n oorlog. So het die proses ook voete gekry en na Amerika toe gegaan en reg oor die wêreld toe versprei. Sedert die ontstaan van blikkies kos het die metode van maak nie juis veel verander nie. Die produk word met in ’n blikkie geplaas en dan geseël. Die blikkie word dan stoom onder druk gekook. Die stoom moet so 116-121°C wees. Die kooktyd vir elke produk is anders. Die stoom of kookproses is natuurlik nie net om die kos gaar te kry nie, maar het ook ’n ander belangrike doel en dit is om die mikro organismes wat die kos laat afgaan, te vernietig. Die blikkies kos het dieselfde voedingswaarde as vars kossoorte. Maar met tyd gaan die kossoorte se in die blikkies se voedings waarde af. Nie dramaties nie. Onthou ook altyd as ’n blikkie so boepens staan, gooi hom eerder weg. Nou laat dit my terugdink aan die tye wat ek in die weermag was. Daar het ons 3 maande lank rat packs ge-eet, wat meer uit blikkies kos bestaan het. Na drie maande se eet en elke dag dieselfde tipe blikkies kos, is blikkies kos nie meer lekker nie. 

((o)) 000ooo000 ((o))

ROLSTOEL:

Ons by Egafrikaans het nog rolstoele en "Shopriders" vir gestremdes. Vir foto's besoek en pryse - www.egafrikaans.co.za/rolstoel.htm 

((o)) 000ooo000 ((o))

GOEIE SLAAPHIGIëNE

Sorg dat jy genoeg goeie kwaliteit slaap kry (7-8 ure per nag). Van die oordragstowwe word aangevul tydens ‘n spesifieke stadium van slaap en as hierdie siklusse nie normaal voltooi kan word nie, kan selfs ‘n heeltemal normale persoon op die langer termyn tekorte begin ontwikkel. Ideaal moet mens vanself kan wakker word voordat jou wekker afgaan. Wakker word 02h00-03h00 in die oggend op gereelde basis is kenmerkend van depressie!

Probeer om die laaste uur voor slaaptyd positief en ontspanne deur te bring – geen inspannende oefening of stryery nie! (Of nuus op TV!)

Raak daagliks ontslae van enige wrokkigheid voor slaaptyd. Praat dinge vroeër uit!

Probeer ‘n warm bad of koel stort voor slaaptyd, afhangende van wat jou gemaklik en ontspanne gaan laat voel.

Die kamer moet stil en donker wees. Die negatiewe invloed van koue, blou lig voor slaaptyd teenoor warm geel lig is ‘n hele studieveld op sy eie, asook die teenwoordigheid van TV en selfoonskerms.

Gebruik ‘n goeie stewige matras.

((o)) 000ooo000 ((o)) 

VREES EN VERANDERING:

Ek luister hierdie week na ‘n spreker oor die reaksie wat die brein het op wat mense hoor. Die voorbeeld wat my nogal getref het:

‘n Skool het twee klaase in ‘n spesifieke graad. In die een klas is die kinders baie begaafd en in die ander klas is die Kinders gemiddeld. Die hoof besluit om die teenoorgestelde vir die twee nuwe onderwysers te sê. Die onderwyser met die gemiddelde klas dink hy werk met begaafde kinders en hanteer die gemiddelde kinders as baie begaafd. Die eindresultaat – die kinders presteer bo hul vermoë terwyl die werklike begaafde kinders soos altyd presteer omdat die onderwyser dink dal hul vlak van talent gemiddeld is.

Die les hieruit is dat positiewe denke en optrede jou inherent motiveer en jy dus beter presteer en dink. Elke mens het ‘n mate van kreatiwiteit in hulle dit moet net gestimuleer word.

Wat word van ons kreatiwiteit? Die slim mense sê dat ‘n kind word gebore met 98% kreatiwiteit, op 10 jaar is dit 32% en op 25 jaar is dit 2%. Waarom dan so?

Die lewe word in boksies geplaas. Kinder moet nie aan iets vat nie, moenie vrae vra nie, moet nie ontdek nie, ja kleur asb. binne die lyne in. Alles in kompartemente. Hoe gaan iemand dan sy kreatiwiteit ontwikkel?

Dit is dus belangrik om kinder op ‘n “ontdekkingsreis” groot te maak. Hulle moet self probeer en leer. Moet hulle nie demp nie. ‘n laaste voorbeeld; Klein Jannie sukkel om ‘n lekkergoed papiertjie oop te kry. Ag toemaar jannie, kom pappa help gou! nee laat hom sukkel, so leer en ontdek hy.

Oor die algemeen het ouer mense ‘n weerstand teen verandering. Ons doen dit al jare so en dit werk! Die eintlike rede is dat jy verandering vrees en jou brein daardie vrees in ‘n weerstand teen verandering plaas. Deur die vrees te oorwin is verandering baie makliker. 

Ons leef in ‘n wêreld van verandering! Kom ons neem die telefoon as ‘n voorbeeld. In die vroeë sestiger jare het ons met ‘n slinger telefoon gewerk, toe kom die deellyne en daarna die outomatiese sentralis. Vandag het ons selfone wat so baie ander funksies het, ja selfs ‘n kamera, en per toeval kan jy daarmee bel ook. Kyk hoe het die telefoon se funksie verander van die sestiger jare tot vandag. Verandering word deel van die lewe maar dit beteken natuurlik nie dat verandering jou lewensbeginsels moet beïnvloed nie.

By CrisisOnCall het ons seder 2002 ook baie veranderings aangebring met die hulp van tegnologie wat elke dag verbeter. Die lewe raak al hoe meer gekompliseerd en daarom moet die nuutste tegnologie ingespan word om seker te maak aksies word meer professioneel geneem wat tot voordeel van mense se lewens is.

Daar was ‘n tyd wat paramedici moes rondry met ‘n ernstige pasiënt van hospitaal tot hospitaal om die regte spesialis te kry wat onmiddellik beskikbaar is. Soms is baie tyd verloor wat tot permanente skade of selfs die dood beteken het. Vandag beskik CrisisOnCall oor ‘n proses wat agter die skerms alles doen en die paramedikus kan fokus op sy pasiënt behandeling. Naasbestaandes weet selfs by wie hulle moet aanmeld by die hospitaal word hulle geliefde is terwyl die goedkeuring en papierwerk afgehandel word terwyl die pasiënt nog oppad is. Dit spaar baie tyd en frustrasie. Onthou TYD=LEWE!

Verlede week kon CrisisOnCall ‘n kind jonger as ‘n jaar vlieg van Pretoria na ‘n spesialis hospitaal in Johannesburg wat met verdrinkings werk nadat die kind byna verdrink het. Die vinnige optrede en die regte mediese span het sy lewe gered.

By CrisisOnCall is mense belangriker as wins. Ons strewe na uitmuntende diens en leef dit ook uit deur ons personeel. Indien jy meer wil weet is dit nou tyd om meer inligting te vra, veral met die oog op die vakansie tyd waar onder andere spesialiste baie skaars is omdat hulle self ook met vakansie gaan. Jy kan net op CrisisOnCall klik sodat ons vir jou meer inligting per e-pos kan stuur.

Voeg saam met die paniekknoppie al die ander 12 dienste wat 'n gesin vir R 115 per maand kan bekom en dit is 'n baie goedkoop metode van totale gemoedsrus.

((o)) 000ooo000 ((o))

RESEP - KOMBUISKASHOENDER

6 hoenderporsies met vel en been
30 ml olie
2 uie, grof gekap
60 ml blatjang
60 ml tamatiesous
60 ml mayonnaise
30 ml worcestersous
30 ml heuning
30 ml soetrissiesous
30 ml sojasous

Braai die hoender in ’n pan in die olie tot goudbruin en bros. Skep uit in ’n oondbak met die velkant na bo. Braai die uie in dieselfde pan tot sag en bruin. Skep oor die hoender. 
Meng die res van die bestanddele goed saam, giet oor die hoender en bedek die bak met foelie. Bak vir 30 minute, verwyder die foelie en bak vir ’n verdere 10-15 minute. Sit voor met rys en slaai. 
Lewer 4-6 porsies.

(Ingestuur deur Hester)

((o)) 000ooo000 ((o))

WENK:

Witkoolsap help vir koorsblare.

((o)) 000ooo000 ((o))

WYSHEID:

As ‘n kind is ek geleer dat om die waarheid te vertel baie keer pynlik kon wees. As ‘n grootmens het ek geleer dat om nie die waarheid te vertel nie nog pynliker kan wees – en dat die vrees om die waarheid te vertel – wat ookal die waarheid mag wees – daardie vrees is die mees pynlike gevoel van ‘n morele lewe.

((o)) 000ooo000 ((o))

OORDENKING: Nuwe moed en krag 

Hallo Danie

Ek skrik wakker met ’n slag. Dis 2:30. Ek kan nie slaap nie, want die spanning dryf my teen die mure uit. My maag draai om en om en die koue sweet slaan orals uit. Ek sit met ’n groot projek voor my en die deure gaan die een na die ander toe. Ek wonder wat wil God hê moet ek doen.

Ek draai later die paslaken van die bed af.

Ek raak stil en maak sommer by die Psalms oop. Ek nooi jou om saam met my te kom rus by Psalm 138. Sommer hier reg aan die begin kry ek ’n belofte wat ek met alles in my vasgryp: 2U sal ek loof en aanbid, want ’n mens kan U vertrou. U het U kinders baie lief. Dis so ’n eenvoudige waarheid, maar ons moet dit weer indrink en oor en oor vir onsself sê: God het ons ontsettend lief. Hy sal ons nooit alleen los nie. Hy gee werklik vir ons om en sal enige iets vir Sy geliefde kinders doen.

Jy kan maar op God vertrou. Hy is té lief vir jou om toe te laat dat enige probleem jou sal stukkend druk.

Glo dit. Sê dit oor en oor vir jouself. Maak dit deel van jou wese. Gaan leef dit.

Dit is juis die liefde en omgee van God wat my nooi om my pakkie na Hom te bring. Met versugting en met trane mag en kan ek voor God gaan sit en alles, maar alles, voor Hom uitstort. Hoor net hier: 3Op ’n dag het ek tot U gebid. U het na my geluister en my gehelp.

God sál na jou luister. Die liefde wat God vir ons het, maak dié kanaal oop. Wanneer liefde vloei, raak die geraas stil en hoor God ons geroep om hulp. Dis juis die liefde wat dit moontlik maak dat God nie net hoor nie, maar ook oorgaan in aksie. God se noodplan vir ons probleme skop dan in werking en … 7Wanneer ek in die moeilikheid is, help U my. Mense kry my nie onder nie.

God help. God gee om. God beskerm. Met alles in Hom keer Hy, ja 7… U keer dat mense wat my wil seermaak, dit regkry. U red my uit hul kloue. Die mense met hulle bose plannetjies wat my wil onderkry, hulle wat so onregverdig is, God sal my teen hulle beskerm. Hulle sal my nie onderkry nie. God sal self met hulle afreken.

Maar meer nog: 8Die Here sal vir my sorg totdat ek die dag doodgaan. U liefde hou nooit op nie. Jou aftreepolis by God is reeds in plek. Eintlik het dit alreeds ingeskop, want God sorg elke dag vir jou. Dit wat jy nodig het, sal jy van God ontvang. Hy sal daarvoor sorg.

Is dit nie wonderlike nuus vir my en jou vandag nie? Nou kan ons die dag tegemoet hardloop en ons probleme aanpak, want ons doen dit nie alleen nie. Ons kan op God vertrou en weet dat Hy elke oomblik saam met ons met ons probleme stoei. Hy kan ons nie alleen los nie, want Sy liefde vir ons loop oor. God sal ons help. Hy sal alle planne in werking stel. Hy sal ons lei om deur te breek. Hy en Sy engele sal ’n linie vorm tussen ons en die ander wat ons wil aftakel.

Glo dit. Sê dit oor en oor vir jouself. Maak dit deel van jou wese. Gaan leef dit.

Met die netto effek: 3... My lewe het verander, want U het my nuwe moed en krag gegee. Met nuwe moed en krag kan jy nou die lewe daar buite aanvat, want God wat jou baie liefhet, stap saam met jou!

Teks

Psalm 138

Dink bietjie hieroor

Watter berge lê voor jou?

Praat jy met God daaroor?

Wat moet jy doen?

Gebed

Vader, dankie vir U liefde. Dankie dat ek mag vra. Dankie dat U hoor. Dankie vir U hulp. Dankie dat U vir my sorg. Dankie dat ek nou weer moed kan hê en met nuwe krag die wêreld kan ingaan. Amen.

(Met erkenning aan Kruispad)

((o)) 000ooo000 ((o))

En dis dan die brief. Om terug te gaan na Egafrikaans. klik net HIER