SPIK EN SPLINTER SE AVONTUUR (Geskryf deur Tersia van Wyk):
HILDA SE NUWE SKOENE
Hilda is sommer baie vies. Sy hou niks van haar nuwe swart skoene nie. Mamma het
verlede week die nuwe skoene vir haar gekoop en vandag het sy dit spesiaal kerk
toe aangetrek, maar ai, hulle maak haar net seer. Haar hake is sommer baie, baie
seer. Sy hou net niks van die nuwe skoene nie. Sy gaan hulle sommer nou uittrek
en weggooi. Sy hou nie van skoene wat seermaak nie. Hulle gee haar net blasé op
haar hake en dis baie seer.
Mamma is besig om kos te kook in die kombuis. Hilda weet Mamma gaan nie daarvan
hou as sy die nuwe swart skoentjies weggooi nie. Maar sy hou niks van die
skoentjies nie. Sy gaan hulle weggooi. Sy sal by Mamma verbysluip en dan die
skoene in die asblik gaan gooi. Sy hou niks van hulle nie, die nare ou skoene
wat net seermaak. En vinnig gooi sy die twee skoentjies in ‘n plastiese sak.
More-oggend gaan sy hulle weggooi.
Daardie aand gebeur daar ‘n baie snaakse ding. Hilda lê lekker warm in haar bed.
Sy is moeg en raak sommer gou-gou aan die slap.
Skielik skrik Hilda wakker. Wat het haar wakkergemaak? Sy luister mooi, dan hoor
sy dit. Iewers in haar kamer is daar ‘n geritsel van plastiese sakke, dan hoor
sy fyn stemmetjies praat.
“Ons sal nooit hier uitkom nie. Die sak is toegeknoop.”
“Hoe gaan ons dan hier uitkom?” vra nog ‘n stemmetjie. “As ons nie hier uitkom
nie, gaan sy ons weggooi en dan, wat word dan van ons?”
“Wag Splinter, ek sal aan ‘n plan dink.” Sê die eerste stemmetjie. “ons moet
hier kan uitkom.”
“Ek hoop jy kan aan ‘n plan dink, Spik.” Sê Splinter benoud. “Dis nie lekker in
die sak nie.”
Dis nou doodstil en Hilda is nou wawydwakker. Sy wonder wie kan klein genoeg
wees om in ‘n sak te wees, maar wat nog kan praat ook.
“Weet jy, Splinter, ek dink nie dit was baie mooi van Hilda om ons hier in die
sak te sit nie.” Sê Spik en Hilda skrik. Het sy iemand per ongeluk in ‘n sak
gesit? Maar hoe kon sy?
“Dink jy sy wil ons weggooi, Spik?” vra die ander stemmetjie.
“Ek weet nie, maar dis nie mooi van haar n ie. Ek meen, ons is spesiaal gemaak
by die skoenfabriek, net vir haar, want sy is so lief vir swart skoene en ons
pas baie mooi by haar kerkrokkie. Nou wil sy ons seker weggooi.” Sê Spik.
Hilda skrik. Is dit haar twee nuwe swart skoene wat daar praat? Dit kan mos nie
wees nie. Sy gaan sit regop in haar bed. Sy moet wakkerbly om te hoor wat hulle
sê.
Na ‘n rukkie praat hulle weer. “Ek dink sy wil ons weggooi omdat ons haar
seergemaak het.” Sê Spik. “Jy weet, ons het haar hake vreeslik seer geskaaf,
Splinter. Dit was nie mooi van ons nie.”
“Maar Spik, ons kan mos nie help as die fabriek ons so hard gemaak het nie.” Sê
Splinter. “Ons kan nie help om te wees soos wat ons gemaak is nie.”
“Splinter, jy’s reg, maar ons kan darem probeer om haar nie so seer te maak
nie.Sy het niks aan ons gedoen nie.” Sê Spik. “Ons wou graag by haar kom bly
het, onthou jy? Ons het dan so spesiaal mooi gaan staan op die rak, net sodat
haar ma ons kan raaksien. Onthou jy?”
“Ja, maar nou wil sy ons weggooi.” Brom Splinter.
“Omdat ons haar voete so seergemaak het.” Sê Spik.
“Nou wat moet ons dan doen? Vra Splinter?
“Ons kan keer om nie so styf om haar voetjies te pas nie. Dit sal help dat hulle
nie so skaaf nie.” Sê Spik.
“Maar hoe gaan ons nou keer dat sy ons weggooi?” vra Splinter.
“Ek dink ons moet hard roep, dan sal sy ons dalk hoor en uit die sak uithaal.”
Sê Spik.
“Julle hoef my nie te roep nie, Spik en Splinter. Ek het alles gehoor.” Sê Hilda
saggies hier langs hulle. Hulle het nie gehoor toe sy uit haar bed klim en langs
hulle kom sit het nie. Sy tel hulle op en kyk na hulle.
“Julle het elkeen ‘n gesiggie, met ogies en ‘n neusie en ‘n mondjie.” Sê Hilda
verbaas.
“Ja, want ons is baie spesiale skoentjies.” Sê Spik. “Ons wou spesiaal na jou
toe kom, omdat ons kon sien jy trek baie mooi klere aan. Ons wou jou nie regtig
seermaak nie, ons is maar net so hard gemaak. Baie jammer, Hilda. Ons sal dit
nie weer doen nie.”
“Toemaar Spik en Splinter, ek vergewe julle. Al maak julle my bietjie seer, sal
ek julle dra. Julle is twee oulike skoentjies.” En toe klim Hilda terug in haar
bed met Spik en Splinter styf teen haar vasgedruk.