Die karavaan:
Op ons pad na die blomme, bly ons toe die
naweek van die 9de Augustus oor by familie in Petrusburg. Dis so halfpad tussen
Bloemfontein en Kimberley. Dis die Saterdag met Vrouedag en die meeste besighede
is gesluit. Ek benodig 'n item vir ons bakkievaan en siende dat die besighede
gesluit is, soek ek na iemand wat moontlik kan help. Later vertel iemand my dat
ek dit wat ek soek beslis by Wikkie Meyer sal kry. Daar word aan my beduie waar
hy woon en daar word vertel dat daar so 'n blou karavaan voor die huis staan. Ek
kry die plek maklik en klop aan. Die deur word oopgemaak en Wikkie nooi my
vriendelik binne. Ek verduidelik my probleem en hy bied aan om te help, maar dit
waarmee hy sal help is in die karavaan. Indien hierdie karavaan by 'n handelaar
sou staan om verkoop te word, sal geen persoon waarskynlik daarin belangstel
nie. Ek word die karavaan ingenooi en vir die beste helfte van 45 minute wys hy
my die binnekant van die karavaan. Kan jy glo dat dit 45 minute neem om die
binnekant van'n ou karavaan te besigtig en ek het elke oomblik daarvan ten volle
geniet. Daardie karavaan is vol, en ek bedoel VOL van die elektronika en
gereedskap. Dis regtig onmoontlik om alles te beskryf. Daar is gereedskap soos
'n elektriese sweismasjien en 'n gassweisapparaat. Dan gewone gereedskap soos
tange, skroewedraaiers, ensovoort.
Toe begin hy my die elektroniese apparate te wys en die meeste daarvan het hy
self gebou. Dis regtig te veel om op te noem en ek kan regtig nie alles onthou
nie, maar ek sal dit wat ek kan onthou opnoem: Bokant die bed is 'n plat
TV-skerm waarop hy video's kyk. In die verste hoek van die karavaan is 'n waaier
en hy kan die spoed vanaf die bed beheer. Daar is sover ek kan onthou drie 12
volt batterye en bokant die bed is drie metertjies wat aandui hoeveel uur elke
battery al gewerk het. Daar is verskeie kragomsetters wat batterykrag na 110 of
220 volt omskakel. Daar is 'n rekenaar wat ook op die plat TV-skerm gesien kan
word. Verder 'n klein apparaat wat enige CD wat gespeel word uitsaai, sodat dit
met enige radio, wat op die regte gloflengte ingestel word, gehoor kan word. Die
afstand is darem beperk tot so 45 meter. Daar is 'n apparaat wat die kragtoevoer
monitor en sou die krag te hoog gaan, word die krag afgeskakel. Op die bakkie
wat die karavaan sleep is 'n tuisgeboude kragopwekker en wanneer die munisipale
krag sou afgaan en hy is in die karavaan, dan word 'n knoppie gedruk en die
kragopwekker word automaties aan die gang gesit. Daar is ook 'n monitor wat die
kragtoevoer monitor en as die krag te hoog gaan, word die nodige gedoen, sodat
niks beskadig word nie. Wanneer die karavaan gesluit is en hy kom na die
karavaan aangestap, druk hy 'n knoppie van 'n klein apparaat in sy sak en die
deur gaan automaties oop. As ek dit alles vertel het, kan ek soos die koningin
van Skeba se dat die helfte nie vertel is nie. Om die waarheid te se, dink ek
nie ek het 15% vertel nie.
As jy ooit naby Petrusburg, tussen Bloemfontein en Kimberley kom, doen moeite en
gaan soek vir Wikkie Meyer op en vra dan om sy karavaan te sien en ek sal jou 'n
brief gee dat jy nie spyt sal wees nie.
Terug van die blommeblad