BILTONGMAKER

 

EERSTE DIE SPESERYE:

Daar is geen tierlantytjies aan nie, net gewoon growwe sout, peper en ‘Woester’ sous. (Ek het geen spesifieke maat vir die speserye of vleis nie). Boudvleis is die maklikste om in repe te sny vir die biltong (Silverside). Meng die growwe sout en peper saam. Elke ou kan natuurlik enige spesery na sy eie smaak bygooi soos koljander, braaivleisspesery, ens. Gooi ‘n laag speserye onder in jou bak waarin jy die rou repe vleis gaan sit. Pak jou eerste laag vleis en strooi weer speserymengsel oor en sprinkel dan Worchestershiresous. Hou aan met lae totdat al die vleis bewerk is. (Indien jy haastig is kan jy baie sout gooi en na twee ure die biltong al ophang!). Indien jy die speserye matig gebruik het, laat staan vir ± 12 ure of meer. Gooi 1 koppie asyn in ‘n houer met water en trek net elke reep vleis deur die asyn water (dit hou die vlieë en goggas weg van jou biltong wanneer dit hang!). Moet nie die speserye afwas nie. Nou ja, hou maar die knipmesse skerp en die pap reg vir daardie lekker biltong.

FOTO VAN DIE BILTONGMAKER:

Hieronder is 'n foto wat ek by Hennie van New Jersey, VSA. "geleen" het. Sy boks is welliswaar nie van karton nie, maar dit gee 'n idee van hoe dit moet lyk. Sy boks het ook meer gate in. Ek dink nie die aantal gate is van belang nie, daar moet net gate wees.

DIE PLAN

Ek het ’n plan van ’n "biltongmaker" wat so eenvoudig is, dat ’n ou sal dink dat ek besig is met ’n Aprilgrap. Al wat jy nodig het is ’n kartondoos, ’n 60watt gloeilamp, ’n paar los goedjies en dis al. 

Kom ek beduie hoe ’n mens die gedoente moet maak. Die items wat ’n mens nodig het, kan nie meer as so R25 kos nie. Die items benodig is die volgende: 

1] ’n Kartondoos [ek hoor "boks" is deesdae ’n erkende Afrikaanse woord vir kartondoos, dus sal ek verder net praat van "boks"], so ongeveer 1 meter by 1 meter. Daar moes nie seep of enige sulke dinge in die boks verpak gewees het nie. 

2] ’n Paar stukkies ronde yster of hout van so 10mm dik en ’n raps langer as wat die boks se wydte is. 

3] ’n 60 watt elektriese gloeilamp. 

4] ’n Gloeilamphouer. Van die soort wat ’n plat ronde plaat aan die agterkant het, sodat die houer aan iets vasgeskroef kan word. 

5] ’n Stukkie plank waarop die gloeilamp houer vasgesit kan word, sodat dit nie kan omval nie. 

6] En verder skroefies, elektriesedraad, ’n elektriese prop ens. 

Voor ek by die aanwysings kom, wil ek net meld dat wat ek vorentoe gaan verduidelik, net "ongeveer" is. Die ding sal werk al is dit nie presies soos wat ek beduie nie. Nou die aanmekaar sit van die biltongmaker. Gaan asvolg te werk: Maak die boks staan met die oopmaak kant na bo. Trek aan die sykant twee strepe wat van hoek tot hoek loop en mekaar in die middel kruis. Elke sykant lyk dus nou dieselfde wat die strepe betref. Meet nou van die hoek van die boks met die streep wat jy getrek het ’n punt 20 sentimeter van die hoek af. Dit doen jy van al vier hoeke en al vier kante van die boks. Met andere woorde jy het nou aan elke sykant vier punte. Sny by elk van hierdie punte ’n ronde gat van 4 sentimeter in die boks. Al wat hierdie gate moet doen is om die lug toe te laat sirkuleer. Die helfte van die werk is gedoen. Maak bo-aan die boks ’n klompie gate waar jy die ronde stafies of ronde hout kan insteek. Hierdie stafies is daar om die biltong aan op te hang. Maak dit so hoog as moontlik. Driekwart van die apparaat is nou al klaar. Plaas die gloeilamp met sy houer, wat op die plank vasgeskoef is, in die middel van die boks, met andere woorde op die "vloer". As jy die gloeilamp vooraf met elektriese draad bedraad het, is jou biltongmaker gereed. Hang die vleis wat in biltong moet verander aan die staffies op, sorg asseblief dat daar nie vleis bokant die gloeilamp hang nie, want die warm gloeilamp sal nie van koue druppende vog hou nie. Maak die boks se bokant toe, skakel die gloeilamp aan en drie tot vier dae later gaan jy biltong eet - ek belowe dit. Net twee wenke: 1] Onthou om die vleis vooraf te sout. 2] Sny sommige van die vleis bietjie dun, want jou kindres gaan na vyf minute begin vra wanneer die biltong dan reg sal wees. Hierdie dun stukkies sal dus gouer reg wees.

<><><>

Terug na die hoofblad. Klik HIER