BILTONGMAKER
EERSTE
DIE SPESERYE:
Daar is geen tierlantytjies aan nie, net gewoon
growwe sout, peper en ‘Woester’ sous. (Ek het geen
spesifieke maat vir die speserye of vleis nie).
Boudvleis is die maklikste om in repe te sny vir
die biltong (Silverside). Meng die growwe sout en
peper saam. Elke ou kan natuurlik enige spesery na
sy eie smaak bygooi soos koljander,
braaivleisspesery, ens. Gooi ‘n laag speserye
onder in jou bak waarin jy die rou repe vleis gaan
sit. Pak jou eerste laag vleis en strooi weer
speserymengsel oor en sprinkel dan
Worchestershiresous. Hou aan met lae totdat al die
vleis bewerk is. (Indien jy haastig is kan jy baie
sout gooi en na twee ure die biltong al ophang!).
Indien jy die speserye matig gebruik het, laat
staan vir ± 12 ure of meer. Gooi 1 koppie asyn in
‘n houer met water en trek net elke reep vleis
deur die asyn water (dit hou die vlieë en goggas
weg van jou biltong wanneer dit hang!). Moet nie
die speserye afwas nie. Nou ja, hou maar die
knipmesse skerp en die pap reg vir daardie lekker
biltong.
FOTO VAN DIE BILTONGMAKER:
Hieronder is 'n foto wat ek by Hennie van New Jersey, VSA. "geleen" het. Sy boks is welliswaar nie van karton nie, maar dit gee 'n idee van hoe dit moet lyk. Sy boks het ook meer gate in. Ek dink nie die aantal gate is van belang nie, daar moet net gate wees.

DIE
PLAN
Ek het ’n plan van ’n "biltongmaker" wat so
eenvoudig is, dat ’n ou sal dink dat ek besig is
met ’n Aprilgrap. Al wat jy nodig het is ’n
kartondoos, ’n 60watt gloeilamp, ’n paar los
goedjies en dis al.
Kom ek beduie hoe ’n mens die gedoente moet maak.
Die items wat ’n mens nodig het, kan nie meer as
so R25 kos nie. Die items benodig is die volgende:
1] ’n Kartondoos [ek hoor "boks" is deesdae ’n
erkende Afrikaanse woord vir kartondoos, dus sal
ek verder net praat van "boks"], so ongeveer 1
meter by 1 meter. Daar moes nie seep of enige
sulke dinge in die boks verpak gewees het nie.
2] ’n Paar stukkies ronde yster of hout van so
10mm dik en ’n raps langer as wat die boks se
wydte is.
3] ’n 60 watt elektriese gloeilamp.
4] ’n Gloeilamphouer. Van die soort wat ’n plat
ronde plaat aan die agterkant het, sodat die houer
aan iets vasgeskroef kan word.
5] ’n Stukkie plank waarop die gloeilamp houer
vasgesit kan word, sodat dit nie kan omval nie.
6] En verder skroefies, elektriesedraad, ’n
elektriese prop ens.
Voor ek by die aanwysings kom, wil ek net meld dat
wat ek vorentoe gaan verduidelik, net "ongeveer"
is. Die ding sal werk al is dit nie presies soos
wat ek beduie nie. Nou die aanmekaar sit van die
biltongmaker. Gaan asvolg te werk: Maak die boks
staan met die oopmaak kant na bo. Trek aan die
sykant twee strepe wat van hoek tot hoek loop en
mekaar in die middel kruis. Elke sykant lyk dus
nou dieselfde wat die strepe betref. Meet nou van
die hoek van die boks met die streep wat jy getrek
het ’n punt 20 sentimeter van die hoek af. Dit
doen jy van al vier hoeke en al vier kante van die
boks. Met andere woorde jy het nou aan elke sykant
vier punte. Sny by elk van hierdie punte ’n ronde
gat van 4 sentimeter in die boks. Al wat hierdie
gate moet doen is om die lug toe te laat
sirkuleer. Die helfte van die werk is gedoen. Maak
bo-aan die boks ’n klompie gate waar jy die ronde
stafies of ronde hout kan insteek. Hierdie stafies
is daar om die biltong aan op te hang. Maak dit so
hoog as moontlik. Driekwart van die apparaat is
nou al klaar. Plaas die gloeilamp met sy houer,
wat op die plank vasgeskoef is, in die middel van
die boks, met andere woorde op die "vloer". As jy
die gloeilamp vooraf met elektriese draad bedraad
het, is jou biltongmaker gereed. Hang die vleis
wat in biltong moet verander aan die staffies op,
sorg asseblief dat daar nie vleis bokant die
gloeilamp hang nie, want die warm gloeilamp sal
nie van koue druppende vog hou nie. Maak die boks
se bokant toe, skakel die gloeilamp aan en drie
tot vier dae later gaan jy biltong eet - ek belowe
dit. Net twee wenke: 1] Onthou om die vleis vooraf
te sout. 2] Sny sommige van die vleis bietjie dun,
want jou kindres gaan na vyf minute begin vra
wanneer die biltong dan reg sal wees. Hierdie dun
stukkies sal dus gouer reg wees.